

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
“Ek is doof en kan net Afrikaans praat. Ek is baie lief vir Jesus. Ek is ‘n Christen”. Hierdie woorde het me. Desireé Smith van Louis Trichardt op die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Facebookgroep ingetik. Terselfdertyd het sy twee Bybels bestel en betaal. Me. Mims Turley, hoof van kommunikasie by die Bybelgenootskap, het die boodskap gelees en teruggeskryf . Sy het Desireé se adres gevra, waarop sy haar posadres verskaf het. Me. Turley het weer geskryf en gevra vir haar straatadres. Desireé het die Bybels in die pos verwag. Sy was baie verbaas toe dr. Johan van Rensburg van die AGS Charisma op Louis Trichardt op 11 Mei by Woolworths, waar sy werksaam is, opdaag om die Bybels persoonlik te oorhandig. Dr. Van Rensburg het bande met die Bybelgenootskap en ds. Gerrit Kritzinger, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap, het hom gevra om die Bybels namens hulle te oorhandig. Die Bybel is getitel Die Bybel vir Almal. Die Bybel vir almal is aanvanklik deur die Bybelgenootsap van Suid-Afrika uitgegee as Die Bybel vir Dowes. Dit is uit die grondtekste in maklik-leesbare Afrikaans vertaal sonder dat enigiets uit die oorspronklike tekste verlore gegaan het. Daar is egter gou besef dat hierdie vertaling, in maklik-leesbare groot druk gedruk, vir meer mense van waarde kan wees en die naam is verander na Die Bybel vir Almal . In dié Die Bybel is daar baie voetnotas wat met asteriske aandgedui word. Woorde, begrippe en interessante inligting word hierin uiteengesit. Histories-korrekte illustrasies verryk verder die Bybel. Desireé het wyer gedink as haar eie behoeftes. Die tweede Bybel wat sy gevra het, is vir haar suster. Desireé is die dogter van mnr. en me. Herman en Annette Smith van Louis Trichardt en is met senuwee doofheid gebore. Haar suster se gehoor is normaal. Desireé het verskeie skole vir dowes bygewoon, waaronder Trans Oranje in Pretoria, Worcester in die Kaap en Tshilidzini in die destydse Venda. Ma Annette vertel dat ‘n vriendin in Venda, me. Elma Steyn, Desireé op ongeveer negentienjarige ouderdom na die Here toe gelei het. Vandag is sy 43 jaar oud. Dit is egter nie altyd so maklik so op haar eie nie. Toe sy in Pretoria gewoon het, het sy die NG Kerk vir Dowes bygewoon. Tans doen sy Bybelstudie tuis. Pa Herman sê dat die Internet ‘n nuwe wêreld oopmaak en dat Desireé graag op webwerwe wat met die Bybel te doen het, ingaan. Sy gesels ook graag met ander op Facebook. Die vreugde op Desireé se gesig het boekdele gespreek toe sy die selofaan omhulsel aftrek om haar besondere Bybel oop te kan maak. Dit was ook nie lank nie of sy het vir dr. Van Rensburg van haar twee ander dowe kollegas vertel en een nader geroep. Sy het gesê dat hulle Engelse Bybels sal kan lees. Omdat doofheid taalontwikkeling beperk, is dit belangrik dat die taal eenvoudig en duidelik uiteengesit moet wees. “Ek kan alles verstaan en dit lees baie lekker, ” het Desireé gesê, terwyl Pa Herman vertaal. Ma Annette sê dat Die Bybel vir Almal net so uitstekend vir horendes is. As iemand ‘n donasie wil maak vir twee spesiale Engelse Bybels vir dowes, kan dr. Van Rensburg geskakel word by 082 855 1270.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
