

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Beenmurgoorplanting kan die lewe red van die kleinseun van mnr. en mev. Nic en Hettie van der Westhuizen.
"Daar is nie by my enige twyfel dat ons kleinseun gaan gesond word nie," sê mev. Hettie van der Westhuizen.
Klein Stephan du Plessis (9) is op 7 November verlede jaar gediagnoseer met leukemie. Sy ouers op Ellisras het nie 'n mediese fonds nie en 'n beenmurgoorplanting kos sowat R450 000. 'n Geregistreerde hulpfonds is vir hom in die lewe geroep.
Stephan se ouma vertel dat dit baie goed met hom gegaan het tot en met September vanjaar, toe hy 'n groot terugslag ondervind het. Hy is opgeneem in die Kalafong Hospitaal waar hy steeds versorg word, nadat hy ook Hepatitis B opgedoen het. Sy moeder bly voltyds by hom.
Intussen word daar gesoek na 'n gepaste skenker. Stephan se sussie het nie gekwalifiseer as 'n gepaste skenker nie. Reach for a Dream het in Februarie vanjaar vir Stephan 'n rekenaar geskenk wat hy by hom in die hospitaal hou.
Die Stephan du Plessis Hulpfondsnommer is Nedbank, Ellisras 1445094371. Vir verdere navrae kan Hettie van der Westhuizen geskakel word by 084 308 9576.

ADVERTISEMENT:
