

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 June 2010
Voorafbetaalde meters vir elektrisiteit is eintlik daar om die lewe vir almal makliker te maak, maar wat gebeur as die munisipaliteit weier om elektrisiteit aan ‘n verbruiker te verkoop? Dit het al by meer as een geleentheid met me. Petro Botha van Loeriepark, ‘n meenthuiskompleks op Louis Trichardt, gebeur. Botha koop maandeliks elektrisiteit vir die inwoners van ongeveer sewe meenthuise in die kompleks. Baie van die oord se inwoners is bejaard en kan nie vir ure in die rye by die munisipaliteit gaan staan nie. “Ek staan my dae om by die munisipaliteit. Dit is ook die enigste plek waar ons kan elektrisiteit koop,” sê Botha. Die probleem kom in by die uitklaring. Baie van die inwoners van Loeriepark huur die meenthuis by ‘n eienaar, hetsy een van hul kinders of ‘n ander eienaar. “As daar enige heffings, belastings, verkeersboetes of uitstaande lisensies teen die eienaar se naam is, dan wil hulle nie aan jou krag verkoop nie,” sê Botha. “Aan die begin het ek my so ontstel. Nou verstaan ek waarom ander mense munisipale geboue afbrand.” Wanneer daar uitstaande skuld teen die eienaar se naam is, moes Botha maar omdraai sonder dat sy vir die bejaardes die krag kon koop. Dan moes die bejaardes probeer om die eienaar in die hande te kry en te vra om sy of haar uitstaande bedrae te vereffen. Sommige huurders het by tye die uitstaande bedrae self vereffen. Die vraag is of dit reg is dat die huurder gepenaliseer word vir skuld wat nie deur hom aangegaan is nie. Volgens adv. Gideon Joubert van die Universiteit van Venda se regsfakulteit, is dit ‘n regsbeginsel in die grondwet dat jy slegs aanspreeklikheid het vir ‘n ander se skuld as jy jouself as borg beskikbaar gestel het. Joubert sê dat as die huurder homself by die munisipaliteit identifiseer en volgens sy huurkontrak kan bewys dat hy nie as borg beskikbaar gestel is vir die skuld van die eienaar nie, hy nie daarvoor aanspreeklik gehou kan word nie. “Hier is ‘n botsing van belange. Die eienaar is aanspreeklik, maar die huurder word aanspreeklik gehou. Die munisipale stelsel het daar ‘n leemte,” sê Joubert. Skriftelike navrae oor hierdie saak is op 13 Mei aan die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi gerig, maar geen antwoord is ontvang nie. Mnr. Thivho Ralulimi, Direkteur Tegniese Dienste het op 24 Mei telefonies gesê dat die eiendom in die naam van die eienaar is en dat die naam van die huurder nie in hulle boeke verskyn nie. Dit is ‘n probleem om elektrisiteit te verkoop voordat uitstaande bedrae ontvang is. “Dit is my ondervinding dat die sisteem nie die huurder sal toelaat om krag te koop as daar uitstaande bedrae op die eienaar se naam is nie,” het Ralulimi gesê. Ralulimi het wel bevestig dat die munisipaliteit besig is om te probeer om meer betaalpunte vir kragaankoop daar te stel. Voorheen was die brandweerstasie ook ‘n punt om krag aan te koop, maar nie meer nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
