

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 June 2010
“As die leeu brul, sal jy wakker bly en voorsorgmaatreëls tref.” Met hierdie treffende vergelyking het mnr. Jacques Bouwer, voorsitter van die Soutpansberg Plaaswag, die jaarlikse mediatoer van die Transvaalse Landbou-unie se Noordstreek verlede Vrydag op Louis Trichardt afgesluit. Elke jaar word joernaliste genooi vir ‘n toer deur die verre noordelike dele van die Limpopo Provinsie. Hierdie jaar se tema was landelike beveiliging. Joernaliste het dus nie net top leierboere ontmoet nie, maar ook eerstehands kennis opgedoen van lede wat op grondvlak te doene het met landelike veiligheid. Die toer het die vorige dag op Vivo begin, toe mnr. Japie van der Goot van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie ‘n breë oorsig gegee het van die beginsels van landelike beveiliging. Volgens hom kan die polisie tans nie meer veiligheid op die platteland handhaaf nie en het dit die stigting van plaaswag- en steungroepe genoodsaak. Etniese spanning binne die polisie, waar daar byvoorbeeld ‘n Xhosa-bevelvoerder aangestel word in ‘n polisiestasie met hoofsaaklik Venda-lede, moet volgens Van der Goot nie onderskat word nie. Plaaswagstrukture werk vanaf die uitgangspunt dat boere mekaar se oë en ore is en so mekaar ondersteun en beveilig. “Plaasveiligheid kan nêrens anders bekom word nie, dit kan net op die plaas self gehanteer word,” het Van der Goot gesê. Die inskakeling by ‘n plaaswagstruktuur hou ook meer voordele in as bloot net die dophou van verdagte aktiwiteite. Dit kan byvoorbeeld ook aangewend word om veldbrande te bestry, veral omdat daar ‘n groot tekort is aan hulpmiddele in landelike gebiede, het Van der Goot verduidelik. Hierdie boodskap is ook grootliks beaam deur twee van Louis Trichardt se veiligheidsmanne. Mnre. Jacques Bouwer, voorsitter van die Louis Trichardt Plaaswag, en Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, het ook joernaliste tydens die toer toegespreek. Uitermatige hoë misdaadsyfers as gevolg van die kommando´s wat ontbind is, grondeise en oop grense het volgens Bouwer die ontstaan van plaas- en dorpswagte ‘n noodsaaklikheid gemaak. “Die doel van die plaaswag is nie om die misdadiger te vang nie, maar eerder om hom uit ons gebied te dwing,” het hy verduidelik. Deur middel van noue samewerking met die polisie, die Departement van Binnelandse Sake en vertrouingsverhoudings wat deur die jare opgebou is met verskeie rolspelers in die veiligheidsektor, sê Bouwer, is hierdie doel bereik. Meissenheimer het verwys na die stigting van die Soutpansberg Dorpswag in 2006, toe Louis Trichardt een van die vyf dorpe in die land was met die hoogste misdaadsyfer. “Na net ses maande het ons gehelp om die misdaadsyfer af te bring met 95%,” het Meissenheimer gesê.

ADVERTISEMENT:
