

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Inwoner van Levubu, die 25-jarige mev. Lorraine Taylor, is Woensdag, 19 November, noodlottig beseer in 'n motorongeluk.
Die ongeluk het in die vroeë oggendure in Levubu op die pad naby die Wolkbergplase plaasgevind. Lorraine was alleen op reis in haar bakkie. Die voertuig het die pad verlaat en omgeslaan. Lorraine het uitgeval, waarna die bakkie bo-op haar te lande gekom het. Sy is op slag dood.
Lorraine laat haar man, Graham, en 'n seuntjie van 16 maande agter. Sy was die enigste kind van Smiley en Truida Lamprecht van Levubu. Die Taylors en Lamprechts is woonagtig op die Plaas Avodene, wat deel vorm van die Wolkbergplase.
Graham, Smiley en Truida sê: "Ons neem afskeid van ons eggenote, lieflingdogter en klein seuntjie se moeder. Sy was vir ons 25 jaar gespaar. Ons sal haar altyd onthou as 'n persoon met 'n klein hartjie en 'n sprankelende geaardheid. Haar hele getroude lewe van drie jaar het sy absoluut aan haar man en seuntjie en haar ouers gewy."
Lorraine, wat gebore is op 18 Augustus 1978, is op Maandag, 24 November begrawe vanuit die N.G. Kerk Levubu-gemeente. Die begrafnis is waargeneem deur ds. Petrus Kriel.

ADVERTISEMENT:
