

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 June 2010
Ná bykans ses maande agter tralies wil die lugmagsersant van LMB Makhado wat daarvan beskuldig word dat hy sy 10-jarige stiefdogtertjie seksueel misbruik het, nou die hof daarvan oortuig dat hy mal is.
Die 34-jarige man het Maandag weer vlugtig in die streekhof op Louis Trichardt verskyn. Hy is in November verlede jaar in hegtenis geneem en het verskyn op een klag van verkragting, een klag van seksuele aanranding, een klag van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n kind en een klag van die seksuele vorming (grooming) van ‘n kind.
Tydens die man se vorige verskyning in Februarie vanjaar het dit aan die lig gekom dat daar dalk meer klagte van verkragting teen hom gebring kan word, ná die polisie se kubermisdaadeenheid die gesin se huisrekenaar ondersoek het.
Die man se prokureur, mnr. Griffith Mabunda, het Maandag egter by die hof aansoek gedoen dat sy kliënt vir sielkundige waarneming gestuur word. Volgens die prokureur het die man vroeër die jaar van sy selmaats aangeval en kon hy glad nie ná die tyd enige iets rakende die voorval onthou nie. Mabunda het ook die vermoede uitgespreek dat sy kliënt, ten tye van die misdrywe teen die dogtertjie, nie tussen reg of verkeerd kon onderskei nie en nog boonop aan depressie gely het. Mabunda het gesê sy kliënt ontvang nie meer medikasie in die tronk vir sy depressie nie.
Die Staat het egter die aansoek teengestaan en gesê dat die man vir tyd speel, aangesien daar geen rekord by die tronk gevind kon word van die beweerde aanval nie. Die beskuldigde kon ook nie eers die naam onthou van die medikasie wat hy skynbaar vir sy depressie ontvang nie. Al medikasie wat hy tans ontvang is vir asma en sedert hy in aanhouding is, het hy nog net een keer versoek om ´n maatskaplike werker te sien.
Die hof het egter Maandag gelas dat die man vir 30 dae lank sielkundige evaluasie moet ondergaan en sy saak uitgestel tot 21 Julie, wanneer sy sielkundige verslag aan die hof voorgelê sal word.

ADVERTISEMENT:
