ADVERTISEMENT:

 

Elf mense dood in grusame vragmotorongeluk

 

News  Date: 11 June 2010

 

Meer as een gesin is sonder ‘n broodwinner gelaat, ná ‘n grusame vragmotorongeluk verlede Vrydag.

Só het mnr. Kenny Mativha, woordvoerder van die Limpopo Departement van Landbou, Maandag gesê, nadat 11 plaaswerkers van ‘n bekende boerdery in die ongeluk oorlede is en nog vyf mense ernstig beseer is.

Die ongeluk het plaasgevind op die Musina/Tshipise-pad. Sestien plaaswerkers, meestal vrouens, van ZZ2 Boerdery was dié aand op pad huis toe, nadat hulle salarisse aan hulle uitbetaal is. Al die vrouens het agter op ‘n vragmotor se sleepwa gesit, wat hulle by hul wonings naby Pafuri sou aflaai. Meeste van die oorledens was afkomstig van die Bale-, Matshena-, Tshiungani- en Mapakoni nedersettings.

ZZ2 het hierdie week in ´n mediaverklaring gesê die ongeluk het plaasgevind op ‘n draai oorkant die Tshipise-vakansieoord. Die presiese oorsaak van die ongeluk word tans nog ondersoek deur ZZ2 en die Limpopo Department van Paaie en Vervoer.

Volgens Musina polisiewoordvoerder kapt. Sydney Ringani, word daar vermoed dat die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor het, nadat die sleepwa losgehaak het. Nog ‘n aankomende ZZ2 vragmotor, onderweg na die mark in Pretoria, het tromp-op met die eerste vragmotor gebots. Elf mense, insluitende die bestuurder van die eerste vragmotor, is opslag dood. Nog vyf mense is na die Musina Hospitaal vervoer vir mediese behandeling. Twee is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan.

Die polisie is besig om ´n saak van strafbare manslag te ondersoek.

Mativha het aangedui dat sy departement ‘n groep sal afvaardig om die families van die oorledenes te besoek.

Intussen het ZZ2 hulle meegevoel aan die families oorgedra en aangedui dat daar wel ‘n ondersteuningspan is wat hulle sal bystaan. Begrafnisreëlings sal na verwagting teen Vrydag gefinaliseer wees.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines