ADVERTISEMENT:

 

Arrestasie lei tot beslagleggingsbevel teen polisie

 

News  Date: 11 June 2010

 

‘n Lasbrief is uitgereik om beslag te lê op polisie-eiendom. Dit volg nadat die SAPD nie gereageer het op ‘n dagvaardiging van ‘n prokureursfirma op Louis Trichardt nie.

Die dagvaardiging is reeds op 9 Oktober verlede jaar uitgereik.

Dit spruit uit ‘n saak waarin ‘n plaaslike sakeman op 18 April 2008 onregmatig gearresteer is deur ‘n inspekteur en andere polisiemanne van die Makhado SAPD. Die arrestasie het sonder ‘n lasbrief plaasgevind by die verkoopsman se sakeperseel, terwyl hy met ‘n kliënt besig was. Die sakeman is vir ‘n uur of twee in ‘n sel aangehou, waarna hy vrygelaat is.

Nadat hy vrygelaat is, het ‘n polisie-inspekteur ‘n verklaring opgestel waarvan die feite nie korrek was nie. Toe die sakeman beswaar maak, het die inspekteur hom gedreig om hom weer in die selle te gooi as hy nie die verklaring teken nie. Uit vrees om weer opgesluit te word, het die sakeman die verklaring onder protes geteken.

Die rede vir die onregmatige arrestasie was ‘n vals aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Volgens die sakeman het hy homself verdedig tydens ‘n aanval wat op 17 April 2008 plaasgevind het. Hierdie aanrandingsklag teen die sakeman is uiteindelik op 5 Augustus 2008 teruggetrek.

In ‘n brief aan die Minister van Veiligheid en Sekuriteit is gemeld dat die polisie die blanke sakeman bloot wou vervolg omdat hy na bewering ‘n swart persoon aangerand het. In geen stadium het die polisie die moeite gedoen om na die sakeman se kant van die saak te luister nie, met die stasiebevelvoerder wat hom gedreig het dat hy die hele naweek in die selle sal deurbring.

“Dit is my reg as onskuldige eiser om beskerm te word teen die polisie se onverantwoordelike en onwettige arrestasies,” word gemeld in die sakeman se verklaring ter ondersteuning van die aansoek om vonnis by verstek. Die sakeman beskik oor ‘n vaste residensiële- en werksadres.

In dieselfde aansoek word Regter Horn se uitspraak aangehaal in die saak van Olivier en ander teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit in 2009: “Was die arrestasie van die klaer in die omstandighede van die saak, gesien in die lig van vlugrisiko, permanente werk en residensie, samewerking van die klaer, sy aansien in die gemeenskap …, onvermydelik, geregverdig of die enigste redelike manier om die doelwitte van die polisie-ondersoek te bereik? … Arrestasie moet tog die laaste uitweg wees.”

‘n Skadevergoeding van R50 000 vir verlies van vryheid en vir vernedering en skade aan reputasie is geëis, asook die rente op die bedrag en die regskoste. Die dagvaardiging is uitgereik in die saak tussen die sakeman en die Minister van Polisie as eerste verweerder en die betrokke polisie-inspekteur as tweede verweerder.

Die polisie het nie verdediging aangeteken nie en die aansoek om vonnis by verstek is op 13 Januarie toegestaan. Daar is geen reaksie ontvang nie. Vonnisbriewe is einde April uitgereik, met 14 dae om die vonnisbedrag te betaal of aanvaarbare reëlings te tref vir die betaling daarvan. Hierdie briewe is per geregistreerde pos gelewer aan die Nasionale Tesourie, die Prokureur Generaal, die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, die Nasionale Polisiekommissaris se rekenmeester en die plaaslike polisie-inspekteur. Die 14 dae het in Mei verstryk, met die gevolg dat ‘n lasbrief vir eksekusie uitgereik is.

Onregmatige arrestasies is ‘n probleem wat in die afgelope vyf jaar baie kop uitgesteek het en steeds baie onnodige trauma veroorsaak. In Julie verlede jaar moes ´n ander plaaslike sakeman, Quentin Thompson, ‘n aaklige nag in die sel deurbring weens onregmatige arrestasie. In 2005 het mnre. Willie Erasmus en Danie Deysel ‘n hele naweek in Dzanani in die selle deurgebring. In dieselfde jaar moes mnr. Gordon Spence, wat toe 56 jaar was, veg om homself teen aanvallers in die sel te beskerm, nadat hy op onbillike wyse gearresteer is. Spence het die polisie aanvanklik ontbied om hom te kom help teen twee aanvallers op sy plaas. Spence het gesê dat hy willens en wetens uitgelewer is aan die genade van geharde misdadigers.

“Die polisie het geweet ek gaan aangeval word toe hulle my in die sel ingestamp het. Om in so ‘n sel toegesluit te word, is deesdae ‘n doodsvonnis,” het Spence gesê.

Nadat onregmatige arrestasies op hoogste vlak aangemeld is deur landbou-unies is, is daar in 2006 ‘n omsendskrywe aan alle polisiestasies deur die destydse polisiekommissaris, Jackie Selebi, uitgestuur met "Instruksies met betrekking tot arrestasies en aanhouding van verdagtes". In die omsendskrywe is lede van die mag baie duidelik gewaarsku teen onregmatige arrestasies.

* Die naam van die eiser, polisie-inspekteur en prokureursfirma is op versoek van die prokureursfirma weerhou vir die doeleindes van hierdie artikel.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines