

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2004
THOHOYANDOU – Na die onlangse goeie reëns is die Nandonidam reeds 100% vol tot op die voltooide vlak van vyftien meter. Water stroom by die sluise uit teen 30 kubieke meter per sekonde.
Die Nandonidam is geleë tussen Thohoyandou en Malamulele in die Levuburivier, en sal by voltooiing een van die grootste damme in die Limpopo Provinsie wees met 'n inhoudsmaat van 164 miljoen kubieke meter water. Gemeenskappe van Louis Trichardt, Thohoyandou en die landelike gemeenskappe van Malamulele en Lambani in die ooste tot Sinthumule/Kutama in die weste, sal deur die Nandonidam bedien word. Pypleidings sal water vanaf die Nandonidam na Thohoyandou en die Albasinidam neem.
Op Donderdag (4de) is die proppe in die dam gesit om water te begin opgaar vir die Xikundu-waterwerke. Dit het so gereën dat dit reeds die volgende dag (Vrydag) nodig was om die sluise oop te maak. Die water het begin opstoot in die damkom. Saterdag (6de) was daar reeds vier meter diep water in die dam. Sondag (7de) het die water verder opgestoot tot by die oorloop van die dam. By die dam self is daar oor die paar dae 126mm gemeet, maar reënval in die omliggende dele van oor die 300mm het die Levuburivier laat afkom, amper soos met die vloede van 2002. Die watervlak het die huidige maksimum van vyftien meter op Sondag bereik en die sluise is vol oopgemaak.
Mnr. Neels du Buissson, plaaslike ingenieur van die Departement van Waterwese se Konstruksie-afdeling, het Woensdag gesê dat die dam nog steeds oorloop. Du Buisson sê dat die reën geen skade aangerig het nie, aangesien die konstruksie daarvoor voorsiening gemaak het. Die beton oorloop gedeelte van die wal moet met nog vyftien meter gelig word en die twee grondflanke aan weerskante met vier meter. Met die reën staan konstruksie nou vir 'n paar dae stil. Die mikpunt vir die voltooiing daarvan is Desember 2004.
By voltooiing sal die damwal 47m hoog wees, gemeet vanaf die laagste fondasie tot by die hoogste punt waar daar geen oorloop is nie. Die lengte van die damwal is net oor die 2,2km, met 'n oorloop gedeelte van 200m in die lengte. Dit sal uiteindelik 'n oorloop van 4 650 kubieke meter per sekonde kan hanteer.
Die opvangsgebied beslaan 'n area van 1 380 vierkante kilometer vanaf Louis Trichardt in die weste tot Malamulele in die ooste.

ADVERTISEMENT:
