

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 June 2010
Die Soutpansberg se eie opkomende krieketsensasie, Leon Olwage, is in meer as een opsig besig om vir homself naam te maak in Britse krieketgeledere.
Leon spog met die uitsonderlike “prestasie” dat hy tydens ‘n Britse klubligawedstryd op 5 Junie die skeidsregter in die wedstryd se motor se agtervenster met ‘n massiewe seshou uitgeslaan het.
Leon het dié uitsonderlike mokerhou gespeel in ‘n drie-dag-lange wedtryd tussen Hampshire en Sparsholt, met Leon wat vir Hampshire se tweedespan speel. Die skeidsregter se motor was in die parkeerterrein agter die klubhuis geparkeer, sowat 30m vanaf die krieketveld. Leon het die bal oor die klubhuis gelig tot mooi agterin die skeidsregter se motor, ‘n afstand van bykans 130m.
Dié mokerhou het bygedra tot Hampshire se 30 lopie oorwinning. Spel is egter na die mokerhou gestaak, met die spelers wat eers wou gaan kyk waar hulle die glas gehoor breek het.
"Ons moes eers wag dat die skeidsregter sy motor vir ons kom oopsluit,” het Leon vandeesweek aan die Zoutpansberger vertel.
Ook die krieketbal se dae was getel. “Die bal was vol glasstukkies en het drie groot snye gehad.”
Die skeidsregter, David Peck, het ná die wedstryd aan ‘n Engelse joernalis vertel dat hy aanvanklik nie bekommerd was toe hy sien die bal trek in die rigting van die parkeerterrein nie.
“Ek het nie gedink Leon kon die bal so hard slaan nie,” het hy vertel.
Peck was later ontsteld omdat hy niemand kon kry om die ruit te vervang nie. Hy moes toe, so met die wind van agter, al die pad huis toe ry.
“Ek is spyt dat ek nooit die kans gekry het om hom (Leon) uit te gee nie,” het Peck opgemerk.
Leon is eers ‘n hele paar boulbeurte later op die grenslyn uitgevang vir 91 lopies, ná een te veel poging om ´n ses te slaan.
“Gelukkig was ek nie in die sop oor Peck se venster nie,” het Leon gesê.
Die klub se versekering het al die kostes gedra en Peck kon die venster die volgende dag vervang. Wat die krieketbal betref, het die Portsmouth kaptein die bal teruggevat na hulle klubhuis toe as ‘n aandenking.
"Die ouens het lekker gelag en was net bly dat die bal nie op hulle motors geval het nie."
Leon, wat sedert April in Portsmouth, Hampshire County, vir ‘n tweede keer in Engeland krieket speel, is ook goed bekend op Louis Trichardt vir sy toegewyde betrokkenheid by plaaslike krieket.
Voor sy vertrek was hy ‘n afrigter by die Louis Trichardt Krieketakademie. Hy het ook uitgestap vir die Limpopo Melkery span, asook die dorp se eerstespan, die Impalas.
Die Portsmouth en Southsea Krieketklub se hoofafrigter het hom genooi vir die ses-maande-lange Southern Electric Premiersliga, nadat sy provinsiale afrigter, Dewald Weterman, hom aanbeveel het.
“Die standaard van krieket is baie hoog hier en ek het selfs kans gekry om skouers te skuur met internasionale krieketspelers soos Simon Jones en Dimitri Mascarenhas,” vertel Leon.
“Ek sal darem nie permanent hier bly nie ... dit is nie my land,” het Leon tydens sy onderhoud met die Zoutpansberger Dinsdag gesê.

ADVERTISEMENT:
