

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Om vir een kind 'n toekoms te bied, kos die CMR, die gemeenskap en die staat baie. "Daarom wil ons net sê hoe trots ons op Hannatjie* (skuilnaam) is, wat so goed presteer het," sê mev. Hester Beukes.
Mev. Beukes, senior maatskaplike werker van die plaaslike kantoor van die Christelik Maatskaplike Raad, verduidelik dat al die tyd, geld en energie wat ingesit word om aan 'n kind 'n toekoms te bied, die moeite werd is.
"Daar is tog dié kinders wat 'n groot sukses maak. As daar nie 'n diens soos die CMR was nie, sou Hannatjie met 'n Standerd 5-kwalifikasie die lewe ingegaan het," sê mev. Beukes.
Hannatjie (16), wat die grootste deel van haar laerskoolopleiding op die dorp ontvang het, het in April 2000 die hoërskool verlaat. Nadat sy vir amper twee jaar doelloos rondgeswerf het, is sy in April 2003 na 'n nywerheidskool in Standerton gestuur.
"Ek het aanvanklik daarteen geskop," sê Hannatjie. "Maar nou is ek baie bly ek het vir my stiefsussie geluister. Sy het gesê sy wil hê ek moet 'n sukses van my lewe maak. Ek voel nou ek gaan iets met my lewe bereik. Ek wil graag my matriek en N3 kry."
Tydens die skool se prysuitdeling op 31 Oktober, het Hannatjie die trofee ontvang as die Junior Dux-leerling van die skool. Sy het ook trofeë en sertifikate ontvang vir die beste prestasie in Wiskunde, Afrikaans Eerste Taal, Ekonomiese Bestuurswetenskappe en Lewensoriëntasie. Hannatjie is ook oorgeplaas na die top koshuis van die skool, 'n eer wat alleenlik aan kandidate met goeie gedrag en vordering gegee word.
Om kinders in nood te help, is een van die belangrike aspekte van die werksaamhede van die CMR-kantoor. Die plaaslike CMR-kantoor het tussen Junie 2001 en Augustus 2003 nodig gehad om vyftien kinders uit die gemeenskap weg te neem. Hierdie jaar alleen was daar alreeds sewe kinderhofgevalle. Dit is buiten al die kinders wat plaaslik in pleegsorg geplaas is.
Die CMR het op hul vergadering van 10 November besluit om 'n krisishuis vir kinders op te rig. 'n Krisishuis mag ses kinders huisves. Addisionele kinders moet saam met die moeder daar tuisgaan. 'n Krisishuis huisves 'n kind gewoonlik vir 'n tydperk van ses maande waarin terapie gegee word.
"Die kinderversorgingsoord is nou vir eers van die baan, omdat die staat 'n moratorium op die oprigting daarvan geplaas het. Ons benodig nou 'n huis wat ons as 'n krisishuis kan inrig," sê mev. Beukes.
Die CMR-kantoor bedank die Zoutpansberger vir die borg van die drukwerk en uitleg van die straatkaart met die CMR werksaamhede agterop. Leach Printers en Schalk Corbett word ook vir hul aandeel bedank.

ADVERTISEMENT:
