ADVERTISEMENT:

 

60-jarige inwoner oorleef gewapende motorkaping

 

News  Date: 18 June 2010

 

“Daardie gevoel kan mens vir niemand beskryf nie,” het ‘n hoogs verligte mnr. Jan Smit (60) van Louis Trichardt Dinsdag gesê, nadat hy ‘n gewapende motorkaping oorleef het.

Jan is van etlike duisende rande beroof, maar was gelukkig genoeg om met sy lewe daarvan af te kom. Dié kapingdrama het homself Maandagoggend in Unikastraat, voor Pakmark, afgespeel.

Jan, wat vir die PJP-sekuriteitsfirma werk, het pas in Louis Trichardt gekom, nadat hy geld van heelwat maatskappye in en om die dorp gekollekteer het. Net na 08:00 het hy voor Pakmark gestop om koffie te drink, terwyl hy gewag het vir die banke om oop te maak om die geld te gaan deponeer.

Twee mans het in die omgewing van die bakkie “rondgedrentel” en Jan het niksvermoedend voortgegaan om sy koffie te drink. Een van die “drentelaars” het meteens die passasiersdeur oopgeruk, ´n vuurwapen op Jan gerig en hom beveel om nie te beweeg nie.

“Die ander man het my by die deur uitgetrek, waarna altwee ingespring het en weggejaag het met my motor,” het Jan vertel.

Boonop, soos die noodlot dit wou gehad het, was Jan aangewese op sy privaatvoertuig, aangesien die sekuriteitsvoertuig in die werkswinkel was vir herstelwerk.

Lede van die Louis Trichardt polisie was spoedig op die toneel, maar Jan se motor was skoonveld.

Mnr. Jaco Cloete, die bestuurder van Pakmark, het hierdie week gesê die vermoede bestaan dat daar altesaam vyf rowers betrokke was, nadat die voorval op ‘n sekuriteitskamera vasgevang is.

“Dit wil lyk of daar nóg drie mans buite in ‘n swart Corsa bakkie gewag het vir die ander twee,” het Jaco gesê.

Intussen het lede van die Soutpansberg Dorpswag ook vir Jan kom help om na sy voertuig en rowers te soek.

Jan se kinders het ook kom help soek na sy voertuig. Ongeveer 21:00 het die oproep gekom dat hulle die voertuig voor FireFly in Industriastraat opgemerk het.

Jan was oorstelp van vreugde om sy motor, met die sleutels, sy ID-boekie en al sy ander persoonlike besittings nog daarin, terug te kry.

“Ek wil graag die SAPD, al die dorpswaglede en my kinders bedank vir hulle spoedige optrede en bystand.”

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Dinsdag bevestig dat die saak ondersoek word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines