ADVERTISEMENT:

 

Wyle dr. Paul Prinsloo (78).

Bekende tandartsskrywer oor Soutpansberg sterf

 

News  Date: 18 June 2010

 

Dr. Paul Prinsloo, bekende tandarts en skrywer oor die Soutpansberg en sy mense, is Saterdag, 5 Junie oorlede aan ‘n hartaanval. Hy was 78 jaar oud.

Paul het ‘n intense belangstelling in die Soutpansberg se mense gehad. Hy het etlike boeke oor die Soutpansberg die lig laat sien. Die bekendste een was Burgers van die Soutpansberg, verhaaltjies oor 26 pioniers van 1920 tot 1995.

Paul het die Bosveld hartstogtelik liefgehad. Hy het nie ‘n kans laat verbygaan om ‘n tydjie af te knyp om die Bosveld te besoek nie. Reëlings was reeds getref dat hy eersdaags by Martie Naudé se gastehuis sou tuisgaan, waartydens Martie hom sou rondneem om bekende plekke op die berg te besoek.

Hy het vir tandarts by Pretoria se Universiteit (1954), later nagraads (1965) by Wits en weer by Pretoria (1984) gestudeer. Sy eerste praktykondervinding het hy by dr. Stegmann op Louis Trichardt opgedoen. Hy het ook later praktyke op Westonaria en Randburg gehad. Later het hy by die Tandheelkundige Akademie aangesluit (Medunsa 1982) en by sy alma mater in 1989 tot met sy afsterwe. Een van sy laaste studente was Johesta Naudé van Louis Trichardt, dogter van Martie en André Naudé. Johesta is tans besig met haar hospitaaljaar op Bethlehem in die Vrystaat.

Om oor dr. Prinsloo te skryf is moeilik – daar is so baie om te sê dat jy nie weet wat om uit te laat nie. Aan die hand van sy etlike boeke probeer ek maar ‘n skets oor hom maak.

Reeds daar in 1934 het Paultjie probeer om sy Boel se bek te ondersoek en die onwillige hond van stokstutte in sy bek te voorsien. Ja, 20 jaar later was einste Paultjie ‘n tandarts.

Paul het meer talente as die normale mense ontvang. ‘n Goeie geheue en ‘n storievertel skryftalent met ‘n humorsin. Soms volg hy sy eie spelreëls soos hy self opgemerk het: “Do not let the truth interfere with a good story”.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die boek, Dokter my Tand, ‘n boek met pittige mens-en-tand stories uit die “goeie ou tyd”.

Die titel van sy eerste boek was “Stoute Mouters, Mans en Meisies”. Hy het ‘n groot liefde vir veteraanmotors gehad. Ook vir meisies, in sy jongdae, soos hy dit self beskryf het, het hy talle gery en ander gevry. Sy woordspelings het jou in hierdie boekie laat wonder, skryf hy oor ‘n motor of ‘n nooi.

Dr. Paul se navorsing kom duidelik uit in sy sketse en stories wat gepubliseer is.

Wat die seun van dié kontrei gedoen het om sommige verhale en pioniersfamilies se geskiedenis en stories vir ons op te teken, is onbetaalbaar. As dit nie vir hom was nie, sou baie kosbare kultuurskatte vir ons vir ewig verlore gegaan het.

Paul het nooit nagelaat nie om sy Skepper en sy medewerkers te bedank om sowat 200 pioniersgesinne se wel en weë aan te teken. Terug in 2005 skryf Paul "my vuurtjie is nou haas uitgebrand en ek staak nou die skrywery." Ons dank aan die Opperwese dat hy hierna nog vir vyf jaar gespaar was.

Dr Paul laat sy tweede vrou, Dalene, agter en het altyd gesê sy het al sy tikwerk gedoen en hom opleiding gegee om ‘n rekenaar te bemeester. Uit sy eerste huwelik laat hy drie dogters, waarvan die een in Australië woon, en ‘n seun na.

Van my kant af is ek dank aan Paul verskuldig dat ek een van die 26 pioniers in sy eerste bundel verteenwoordig. Slegs enkeles van ons is nog oor. Ek verbly my aan die paar woorde wat Paul op my “Burgers van Soutpansberg” geskryf het: “Met dank van een Boslanster aan ‘n ander Boslanster, Goeie wens. Dankie, baie dankie”.

Sy begrafnis was verlede Donderdag uit die Hervormde Kerk Doornpoort (Pretoria).

Paul Prinsloo, Soutpansberg en ek self salueer jou. Dankie, baie dankie. (Skrywe verkort - Red)

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines