ADVERTISEMENT:

 

Die karkas van die dooie koei wat vroeg verlede Vrydagoggend motoriste op die N1 deur Louis Trichardt begroet het.

Dooie koei op N1 bly steeds ´n raaisel

 

News  Date: 25 June 2010

 

‘n Dooie koei het verlede Vrydagoggend motoriste op die N1 tussen Songozwistraat en die verkeersirkel op Louis Trichardt begroet. Hoe die koei daar gekom het en wie vir die dier se dood verantwoordelik was, was teen druktyd egter steeds ‘n raaisel.

Te oordeel aan die groot plas bloed op die nasionale hoofweg, was dit duidelik dat die dier haar einde op die N1 begroet het. Dit wou blyk dat iemand gedurende die aand die koei, wat op sigwaarde vêr dragtig was, geskiet het. Sy is daarna uit die pad gesleep, duidelik nie iets wat een mens maklik sou kon vermag nie.

Kort voor tien die oggend het verskeie senior amptenare van die Makhado Munisipaliteit die toneel besoek. Terselfdertyd was munisipale verkeersbeamptes besig om ‘n trop beeste, wat hul weg in die boompark in gevind het, te verwyder en na die munisipale skut te jaag.

By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat nòg die Stadsraad nòg die verkeersafdeling kennis dra van die dier of wie dit geskiet het nie. Lede van die polisie se veediefstaleenheid het ook gaan kyk na die karkas. Hulle het die dier ondersoek vir ‘n brandmerk om te bepaal wie die eienaar was. Die dier was gebrandmerk, maar die merk was bykans onleesbaar. Die dier was ook met ‘n groen merker in die oor gemerk, maar daar was geen inligting op die merker nie.

Die koei is later die dag, met behulp van ‘n hyskraan, op ‘n vragmotor gelaai en naby die munisipale stortingsterrein gaan begrawe.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Dinsdag gesê dat die eienaar van die bees steeds nie opgespoor kon word nie. Hy kon ook nie sê of die bees deel was van die trop rondloperbeeste wat in die Boompark gevind is nie. Bobodi het op sy beurt bevestig dat die eienaar van die trop beeste wat geskut is, intussen sy skutfooie kom betaal het en die diere verwyder het. Hy wou ook nie bevestig of die koei deel was van die trop nie.

Rondloperbeeste op die streek se paaie het die afgelope paar jaar verskeie inwoners se lewens geëis. Alhoewel talle die skiet van die dier as barbaars beskryf het, was ander minder simpatiek.

“Immers is dit net ‘n dooie koei wat begrawe is. Sê nou iemand het in die bees vasgery, dan sou dit heel moontlik ‘n mens wees wat begrawe moes word,” het een inwoner opgemerk.

Sadike het inwoners versoek om eerder met die polisie of die plaaslike Dierebeskermingsvereniging te skakel indien hulle probleme ondervind met probleemdiere. Intussen duur die polisie se ondersoek voort. Daar word onder meer ook ‘n klag van die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied ondersoek.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines