

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 June 2010
Hoe gemaak as jy alles in jou vermoë gedoen het om onafhanklik te wees van die munisipaliteit, maar elke maand steeds ‘n buitensporige hoë verbruikersrekening ontvang?
Dit is die vraag wat ‘n inwoner van Louis Trichardt, mnr. Renier Steenkamp, homself begin afvra het, nadat hy al vir vier maande belaglike hoë rekeninge ontvang vanaf die Makhado Munisipaliteit.
Teen hierdie tyd weet elke inwoner van die twispunt wat ontstaan tussen verbruikers en die munisipaliteit oor foutiewe rekeninge, asook die swak dienslewering wat al sinoniem daarmee geraak het.
Steenkamp het sowat vyf maande gelede besluit om ‘n einde te maak aan hierdie twispunt en eerder onafhanklik van die munisipaliteit te funksioneer.
Al die swaargewig elektriese toestelle, soos die waterverwarmingstoestel (geyser), stoof en verwarmers is vervang met gastoestelle. Selfs die elektriese ketel is vervang met ‘n ketel wat op die stoof gekook word. Boonop is al die binne- en buitegloeilampe vervang met energie-besparende gloeilampe en is al die buiteligte gekoppel aan ‘n dag/nag-skakelaar. Steenkamp maak ook nie meer gebruik van munisipale water nie, nadat hy self ‘n boorgatwatertenk en 0,5kw drukpomp geïnstalleer het.
Helaas, met al sy veranderinge in plek, wat hom duisende rande uit die sak gejaag het, het Steenkamp se rekening steeds elke maand wipplank gery.
In vergelyking met ander huishoudings, waar ‘n rekening normaal weg so tussen R600 en R1 200 beloop, is Steenkamp se huidige rekening R3 800.
De Graaff Under-Car het by navraag aan die Zoutpansberger bevestig dat hulle maandelikse verbruikersrekening gewoonlik uitwerk op sowat R1 700.
Nog ‘n bekende onderneming op die dorp (wat nie geïdentifiseer wil word nie) het gesê hulle rekening beloop ongeveer R2 300 per maand, terwyl hulle werkswinkel se rekening wissel tussen R7 800 en R9 000.
Wat Steenkamp se rekening egter raaiselagtig maak, is die feit dat die munisipaliteit sedert April nog steeds sy “waterverbruik” in berekening bring.
“Toe ek die watertenk geïnstalleer het, het die watermeter van die munisipaliteit die gees gegee, omdat die lyn verweer het. EK het die munisipaliteit geskakel, maar geen reaksie. Ek het dit afgehaal en die lek tydelik herstel,” het Steenkamp gesê.
Sedertdien het hy al male sonder tal die munisipaliteit gebel om die pyp te kom herstel en hul meter te kom haal.
Met sy huidige rekening onder die arm het ‘n keelvol Steenkamp verlede Vrydag besluit om eerder persoonlik by die munispaliteit te gaan navraag doen. Hierdie inspanning het egter geen vrugte afgewerp nie, nadat Steenkamp van bakboord na stuurboord rondgestuur is.
Een munisipale beampte het net skouers opgetrek en hom verwys na Motla Engineering, die maatskappy wat deur die munisipaliteit aangestel is om die meterlesings te hanteer.
Motla Engineering kon dadelik vir Steenkamp ‘n rekenaaruitdruk gee as bewys dat hulle reeds sedert April nie meer ‘n waterlesing vir die munisipaliteit gee nie, omdat die meter "removed” is.
Terug by die munisipaliteit het Steenkamp hom weer van vooraf vasgeloop in ontoegeeflike amptenare wat hom maar net nie wou help nie.
“Voordat ek betaal, wil ek immers weet hoekom my rekening elke maand so hoog is,” het Steenkamp gesê.
By navraag het mnr. Reuben Radzilani, hoof van die rekeningafdeling, aan die Zoutpansberger verduidelik dat die tegnici van Motla Engineering party maande nie ‘n lesing aan die munisipaliteit deurgee nie en dat die munisipaliteit dan die lesing skat. Hy het ook verduidelik dat dit onmoontlik is vir die munisipaliteit om al die meterlesings te rekonsilieer en dat die munisipaliteit net dié rekeninge ondersoek waar die rekeninghouer kom kla.
Sy enigste verduideliking waarom die munisipaliteit lesings skat, was dat “die munisipaliteit dit moet doen as daar nie ‘n lesing is nie.” Radzilani het toe aangebied om mnr. Nelson Mpeiwa, saam met ‘n Motla-verteenwoordiger, na Steenkamp se woning te stuur om die lesings te ondersoek. Ook hierdie besoek was egter tervergeefs. Ná net tien minute het Mpeiwa eenvoudig tot die slotsom gekom dat die nuwe digitale meter wat in Januarie 2010 ingesit is, moontlik foutief kan wees en dat Steenkamp ‘n brief moet skryf aan die tegniese afdeling om dit te kom herstel. Die rede, volgens Mpeiwa, vir die waterlesings is “omdat die meter nog nie van die munisipale sisteem verwyder is nie.”
“Ek weier om ‘n brief te skryf, nadat ek alreeds vir vier maande telkemale gebel het om die probleme te probeer oplos,” was Steenkamp se antwoord. Hierop was Mpeiwa se raad dat Steenkamp die munisipale bestuurder moet sien as niemand anders hom wil help nie.
Die munisipale bestuurder, mnr. Aifheli Tshikalange, is wel genader en sy raad was bloot dat hy aandag aan die probleem sal skenk nadat hy ‘n skriftelike klagte van Steenkamp ontvang het.

ADVERTISEMENT:
