

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 June 2010
Te midde van die dorp se kroniese watertekorte is inwoners verlede Vrydagaand boonop in die donker en ysige koue gedompel weens ‘n vragmotorbestuurder wat homself misgis het.
Die bestuurder het homself Vrydagaand misgis met ‘n afdraaipad op die Vondelingpad, regoor die Dierebeskermingsvereniging. Met die omdraaislag het hy ‘n munisipale kragpaal so hard gestamp dat die paal uit sy betonblok gelig het.
Die hele dorp wes van die N1, asook die industriële gebied, was in totale duisternis gedompel en inwoners moes inderhaas skarrel om hulle gasstofies en kerse uit te haal.
Munisipale werkers moes vinnig plan maak om ‘n tydelike paal te prakseer en deur middel van ‘n ringtoevoer van die Mara-lyn kon die kragtoevoer na die dorp teen middernag herstel word.
Gemoedere het egter hoog begin loop nadat die hele dorp se water ook af was Vrydagaand. Meeste inwoners in die ou dele van die dorp het nie eens kans gehad om hul waterhouers vol te maak nie. By navraag het dit aan die lig gekom dat ‘n verweerde pyp by Pompstasie 3, in die omgewing van Leeustraat, gebars het. Hierdie pyp is net tydelik herstel en alle aanduidings is dat inwoners hulleself weer sal moet regmaak vir verdere watertekorte hierdie Vrydag (25ste ). Die pompe sal weer gestop moet word, sodat die verweerde deel van die pyp heeltemal vervang kan word met ‘n nuwe pyp.
Intussen word dit al hoe duideliker dat inwoners wat watertenks kan oprig, dit wel doen. Dit volg nadat gerugte die rondte begin doen het dat die munisipaliteit opgraderingswerk aan die hele waterpypnetwerk beplan, wat aanleiding kan gee tot ‘n grootskaalse waternood in die hele dorp.

ADVERTISEMENT:
