ADVERTISEMENT:

 

Rowers dreig, maar steel net sleutels

 

News  Date: 02 July 2010

 

Ayob Motors in Louis Trichardt het Maandag die jongste slagoffer geword van ‘n reeks gewapende rooftogte, waarin sowat 50 voertuie se sleutels buitgemaak is.

Maandagoggend se roof op die hoek van Krogh- en Joubertstraat herinner sterk aan die gewapende roof by Pakmark sowat twee weke gelede.

Die Zoutpansberger berig op 18 Junie oor mnr. Jan Smit, ‘n sekuriteitsbeampte wat voor Pakmark, ook deur twee gewapende rowers, aangehou en beroof is. Die roof by Ayob Motors is ook uitgevoer deur twee gewapende rowers, met drie mans wat in ‘n wegkomvoertuig buite die onderneming gewag het.

Volgens die bestuurder, mnr. Willie van Dyk, het hy pas by die kantoor aangekom toe hy hoor hoe iemand buite die kantoor by een van die personeellede aandring om die “mister” te sien.

Van Dyk het gaan ondersoek instel, toe die rower omdraai en ewe koel en kalm ‘n pistool uitpluk en op hom rig. Die tweede rower het agter ‘n geparkeerde motor gestaan en sy pistool op die ander personeel gerig gehad.

Die eerste rower wou dadelik weet waar al die motorsleutels is, waarop Van Dyk hulle beduie dat die sleutels in ´n tas was. Die hele rooftog, vertel Van Dyk, was binne enkele minute verby, waarna die rowers oor die pad gehardloop en in ‘n rooi Toyota Tazz gespring het.

“Al wat ek kan onthou, was die loop van die geweer wat op my gerig was,” het Van Dyk gesê.

Sowat 55 motors se sleutels, asook die kantoor se spaarsleutels, is buitgemaak. Die eienaar, mnr. Hussein Ayob, sê dit sal hom na beraming sowat R300 000 uit die sak jaag om al die slotte op die voertuie te vervang.

Hy het ‘n groot beloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die opsoor van die sleutels.

Enige iemand met inligting kan vir Hussein skakel by tel. 015 516 5175. Die sleutels was in ‘n helder groen skooltas.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines