ADVERTISEMENT:

 

Sonja Kruse, afgeneem tydens haar besoek aan die Zoutpansberger. Sy het ook bietjie tyd in Makoya 7-11 se radio-ateljee spandeer waartydens aanbieder Nic Hoffmann ´n onderhoud met haar gevoer het.

Ubuntu-meisie al dapper stapper deur die land

 

News  Date: 02 July 2010

 

Sonja Kruse, teen hierdie tyd al beter bekend as die Ubuntu-meisie, het met dapper en stapper verlede Woensdag op Louis Trichardt kom kuier.

Die fyngeboude rooikop vroutjie het verlede jaar besluit om Suid-Afrika te deurkruis met net haar rugsak, kamera en ‘n R100 in die sak, op soek na die gees van ubuntu oftewel menslikheid.

Tot dusver, vertel Sonja, was haar staptoer baie suksesvol. Tot op hede het nog niemand haar weggewys nie en het mense van alle kulturele groepe haar met ope harte en arms verwelkom. Sy het al tuisgegaan by informele nedersettings, rykmansbuurte, studente, vissermanne en ook gebruik gemaak van ‘n buitetoilet en partykeer die stof van die pad afgewas in net ‘n plastiese skottel.

Sonja se avontuur het sy oorsprong gehad in ‘n droom wat sy vier jaar gelede gehad het en nou beplan sy om ook ‘n boek te skryf oor al die mense wat sy ontmoet het.

In November 2008 het sy uit haar werk by ‘n vakansie-oord in KwaZulu Natal bedank, haar motor weggegee en met haar rugsak begin stap.

Sonja het begin in Oos-Londen en het geen vasgestelde roete nie. Sy maak staat op die mense wat sy ontmoet en besoek al die interesante bestemmings wat hulle voorstel.

“Ek wil graag bewys dat as jy optimisties is en ‘n oop hart het, sal mense beter kan saamwerk in Suid-Afrika,” het Sonja gesê.

Ná agt maande het Sonja alreeds in 86 dorpe en 115 verskillende huisgesinne tuisgegaan.

“Die belangrikste ding wat ek geleer het van ubuntu, is dat ons almal op ‘n manier verbind is aan mekaar.”

Sonja kom meeste van die tyd per voet oor die weg of maak gebruik van privaat voertuie wanneer mense wat sy ontmoet aanbied om haar iewers af te laai. Sy het ook al per geleentheid duim gegooi, as sy moeg word.

“Ek was nog nooit bang nie. Waarvoor moet mens bang wees? Ons is hopeloos te negatief in Suid-Afrika en besef nie hoeveel liefde daar werklik in ons land is nie,” het Sonja gesê.

Een van haar reis se vele hoogtepunte was toe sy saam met ‘n jong bouer onder ‘n boom in Knysna gesit en kuier het. Sy het pas brood en polonie gekoop vir middagete en besluit om dit met die man te deel, omdat hy werkloos was.

“Sy vriendelikheid het my asem weggeslaan,” het Sonja vertel. “Hier was ‘n man wat nie geweet het waar sy volgende ete vandaan gaan kom nie en hy het nog steeds sy toebroodjie met vier ander honger verbygangers gedeel!”

Maar waar beplan sy om volgende te gaan?

“Ek weet nie ... waarookal die pad my lei, maar ek sal graag Venda-mense wil ontmoet terwyl ek hier in julle provinsie is,” het Sonja gesê tydens haar besoek by die Zoutpansberger.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines