ADVERTISEMENT:

 

Ouma Feykie Bell (middel) het 100 jaar oud geword op 19 Junie! Haar geheim, sê ouma Feykie, is die Here. Regs is haar jongste dogter, me. Elizabeth (Babatjie) Bell (70) wat haar versorg en links ‘n familievriendin, me. Anna Matjutla (73). Die foto is op 26 Junie geneem tydens een van die vieringe in die saal van St Marks Anglican Kerk.

Ouma Feykie deel 10 dekades se wysheid

 

News  Date: 02 July 2010

 

Op 100 jaar rol die wyshede uit ouma Feykie Bell se mond, terwyl sy steeds alleen kan regop staan. Haar verstand is so helder soos die son wat deur die venster skyn in die saal van die St Marks Anglican Kerk waar die verjaarsdagvieringe van ‘n volle eeu vir haar gehou is.

Haar geheim, sê ouma Feykie, is die Here. Om die Here te eer, is die leuse van haar lewe.

“Kyk nou net wat gaan hier in Rhodesië aan. Hulle moet die Here eer!” sê ouma Feykie. Sy skram geensins weg van politiek nie en deel haar wyshede van tien dekades.

“Ek eer die witmense, die Here het vir hulle ‘n spesiale slimmigheid gegee vir ons land. By hulle het ek geleer om hard te werk. Ek het nie geleerdheid nie, maar my hande het geleerdheid gekry. Dit maak nie saak of hulle my aia of bastermeid roep nie, ek eer hulle. Vandag is hulle niks en ons vertrap mekaar in hierdie land. Dit is nie reg nie. Die Here verstoot niemand nie.”

Vir die lidmate van haar gemeente het ouma Feykie toegewens dat die Here hulle moet spaar en krag gee.

‘n Familievriendin, me. Anna Matjutla, het melding daarvan gemaak dat ouma Feykie vlot Afrikaans, Venda, Sesotho, Shangaan en Engels praat.

Ouma Feykie, wat die afgelope 30 jaar in Tshikota (Louis Trichardt) woon, sê dat sy nog nooit in haar lewe so ‘n wonderlike verjaarsdag gehad het nie. Sy is op 19 Junie 1910 in die Evangelina-distrik naby Pontdrift gebore. Die honderdjarige viering het bestaan uit ‘n ete by die kerk op Saterdag, 25 Junie en ‘n tee en twee groot verjaarsdagkoeke Sondag. Twee van haar vyf kinders lewe nog en was sprekers by die ete: Magdeline, vir wie ouma die troetelnaam ‘Kleintjie’ het, en die jongste, Elizabeth of ‘Babatjie’ (70). Elizabeth (70) versorg ouma elke dag en beskou dit as ‘n groot voorreg. Nog ‘n spreker, me. Anna Matjutla (73), word ook deur ouma as haar dogter beskou en het die troetelnaam ‘Girlie’ gekry. Anna se moeder was die jong me. Feykie Bell se eerste vriendin toe sy in 1936 na Louis Trichardt gekom het. Me. Matjutla sê dat ouma nog nie een dag in ‘n hospitaal deurgebring het nie en ook geen medikasie gebruik vir hoë bloeddruk of diabetes nie. Me. Thelma Bell, kleindogter, sê dat ouma gesond is, maar dat dit net die oë, gehoor en bene is wat pla. Ouma Feykie het 37 kleinkinders en talle agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders.

“Ouma is baie eerlik en baie streng. Sy wil altyd in vreugde lewe en sien altyd die goed in almal. By haar sal jy nooit honger ly nie, daar is altyd iets te ete. Haar geloof is baie sterk,” vertel Thelma tydens die tee.

Anna sê dat ouma Feykie hulle altyd as kinders aangemoedig het om Sondagskool en kerk toe te gaan. Ouma Feykie val daar en dan weg met ‘n lang en wonderlike evangelieboodskap en sê dat die Here jou nooit sal verstoot as jy “vergiffenis vra” nie. “Maar jy moenie dink jy kan in die geheim sonde doen nie. Dit sal altyd uitkom,” sê ouma Feykie.

Ds. Gail Blunden van die St Marks Anglican Kerk sê dat dit ‘n groot voorreg is om iemand te ken wat die ouderdom van 100 bereik het.

“Ek ken haar vir agt jaar. Sy kom kerk toe wanneer dit ookal moontlik is. As ek haar besoek, sit sy daar onder die boom en as sy eers mooi gehoor het wat jy vra, dan kom die antwoorde,” sê ds. Blunden.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines