

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2010
Baie rolspelers was betrokke by die bekendstelling en uitbouing van die Suid-Afrikaanse weergawe van die storie van die legendariese Australiese volksheld ‘Breaker’ Morant en die Bushveldt Carbineers.
Op 26 Junie is betrokkenes bedank met ‘n sertifikaat van waardering vanaf die Vriende van die Zoutpansberg Skermutselingsroete (ZSR) en die Lalapanzi Erfenismuseum.
Die rolspelers het mnr. Charles Leach bygestaan voor en tydens die besoek van die Australiese Nine Network-televisiespan, wat vergesel is deur kommdr. James Unkles, militêre regskenner van Australië en die Australiese outeur, Nic Bleszinsky.
Kommdr. Unkles het internasionaal opslae gemaak toe hy in Februarie vanjaar die Britse regering versoek het om lte. Harry ‘Breaker’ Morant en Peter Handcock se doodsvonnis te hersien. Morant en Handcock van die Bushveldt Carbineers (BVC) het op 27 Februarie 1902 voor ‘n vuurpeloton gesterf, nadat hulle aangekla is van moord op burgerlikes, insluitende ‘n Duitse sendeling.
Charles Leach en die uitgebreide ZSR familie het alles in die stryd gewerp om die Suid-Afrikaanse perspektief aan die Australianers bekend te stel. Weinig hier glo dat Morant verskoon moet word, as gevolg van die brutaliteit van die moorde op onskuldige kinders en ander. Waarskynlik is die opinie van die meerderheid in Australië dat Morant se vonnis hersien moet word, veral nadat ‘n rolprent oor die lewe van ‘Breaker’ Morant hom tot volksheld verhef het. Nadat hulle die Suid-Afrikaanse weergawe van die BVC verhaal beleef het, het sommige lede van die Australiese televisiespan prontuit gesê dat Morant nie verskoon moet word nie. Die span het egter gekom om ‘n storie te vertel, nie om kant te kies nie. Ray Martin, bekroonde Australiese televisie joernalis het op 1 April by Lalapanzi Hotel die vraag gevra: “Was Morant ‘n brutale moordenaar of ‘n sondebok van die Britse imperiale ryk?” en dit self beantwoord deur te sê: “Miskien beide.”
Daar word verwag dat die program oor Morant wat onder andere in die omgewing vervaardig is, hierdie Sondag (4 Julie ) deur Nine Network gebeeldsend sal word. Alle betrokkenes hou asem op om te sien hoe die storie uitgebeeld sal word. Later sal kopieë van die program aan Charles beskikbaar gestel word.
Tydens die bedankingsfunksie op 26 Junie het die wynbottels ‘n spesiale plakker vertoon waarop ‘n groot rooi vraagteken agter die versoek om Morant te verskoon, verskyn.
Prof. Louis Changuion het ook sy T-hemp wat Unkles vir hom in Louis Trichardt gelos het, met gemengde gevoelens in ontvangs geneem. Die T-hemde propageer die hersiening van Morant se vonnis.
Die ZSR Pretoria-span, prof. Fransjohan Pretorius, prof. Malie Smuts en mnr. en me. Piet en Anne-Marie Redelinghuys, het hierdie week weer hul dank uitgespreek in ‘n e-pos. “Baie dankie vir die voorreg om te kon deel wees van ‘n formidabele span wat ons glo die geveg sal wen en dat die waarheid sal seëvier, na meer as 100 jaar!”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
