

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2010
Die afgelope week se reën wat oor die streek uitgesak het, wat menige inwoner herinner het aan Kaapse reënweer, het plaaslike boere behoorlik aan die jubel.
Veral boere van die Levubu-omgewing beskou die reën as ‘n welkome seën so in die middel van die winter seisoen.
Luidens die voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou Unie, mnr. Stephann Hoffman, het die boere in Levubu teen Dinsdagoggend tussen 16 tot 20mm reën gehad.
“Al die boere is bly want die landboutoestande lyk baie goed,” sê Hoffman, “veral na die goeie reën wat ons April gekry het.” Die weer bring ook bietjie besparing vir boere, aangesien hulle bietjie op hul krag of dieselrekening kan spaar wat betref die pomp van water.
Plaaslike weerkenner mnr. Willie Agenbacht het Dinsdag vanuit Pretoria vertel dat sy huishulp hom baie opgewonde gebel het om te vertel dat sy hierdie week “bietjie afgekry het met die tuin natgooi.” Volgens Oom Willie het die huishulp 3mm reën vir Maandag gemeet en 7mm vir Dinsdag.
Oom Willie het ook vertel dat hy al vantevore reën gemeet het in die winter en dat winterreën in die Soutpansberg-streek nie ongehoord is nie.
Intussen word daar nog nat weer vir die komende week voorspel.

ADVERTISEMENT:
