

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 July 2010
‘n Bekende oud-onderwyser van Musina, Sebastian van der Merwe (50), is Dinsdag in die streekhof op Louis Trichardt tot ses jaar direkte gevangennisstraf gevonnis, nadat hy skuldig bevind is op ‘n klag van ‘n onsedelike daad met ‘n kind.
Die klag teen hom spruit uit ‘n voorval toe hy ´n seun, nou 18, vir ´n jaar lank onsedelik aangerand het. Basie, soos wat hy beter bekend staan, was ten tye van die voorval ´n onderwyser by Hoërskool Eric Louw, asook ´n rugbyafrigter by die skool.
Van der Merwe is in Februarie 2007 in hegtenis geneem, nadat die seun na vore gekom het en onthul het dat hy onsedelik aangerand is deur Van der Merwe. Tydens die seun se hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Van der Merwe hom nie net seksueel gevorm het nie, maar ook sy privaatdeel betas het.
Van der Merwe is aanvanklik aangekla van onsedelike aanranding en die pleeg van ´n onsedelike daad met ´n persoon tussen die ouderdomme van 16 tot 19 jaar. Hy is in Mei vanjaar onskuldig bevind op die klag van onsedelike aanranding en skuldig op die klag van die pleeg van ‘n onsedelike daad met ‘n kind.
Die seun, wat ten tye van die voorval 14 jaar oud was, het getuig dat Van der Merwe hom omgekoop het met alkohol en sigarette. Van der Merwe het hom dan ná die voorval geld gegee, sodat hy vir niemand moes vertel nie.
Van der Merwe se regsverteenwoordiger het voor vonnisoplegging aangevoer dat die seun gedragsprobleme voor die voorvalle getoon het en selfs uit die skool geskors is en gerebelleer het teen alle vorme van gesag. Hy het verder aangevoer dat dit dus moeilik is om te bepaal of die seun se probleme gekoppel kan word aan die onsedelike dade. Hy het gemeen dat Van der Merwe ‘n goeie kandidaat sal wees vir rehabilitasie.
‘n Kenner op die gebied van kindermolestering en ‘n kliniese sielkundige, mnr. Willie Hanekom, het getuig dat die seun definitief seksueel gevorm is. Volgens hom het die seun ‘n agterstand met sy probleemoplossingsvermoë opgedoen as gevolg van die afwesigheid van sy biologiese vader.
“Die seun se agterstand is uitgebuit,” het hy gesê.
Die hof het bevind dat Van der Merwe geen berou vir sy dade getoon het nie en hom gevonnis tot ses jaar direkte gevangenisstraf. Hy is verlof tot appel teen sy vonnis geweier.
Van der Merwe het tydens ´n onderhoud met die Zoutpansberger, kort voor vonnisoplegging, gesê die saak het hom platgeslaan en finansieel uitgeroei. In daardie stadium het hy gehoop om verlof tot appèl teen sy vonnis te kry.

ADVERTISEMENT:
