ADVERTISEMENT:

 

Wyle Pikkie Truter (75).

Voormalige skoolhoof lê finaal die tuig neer

 

News  Date: 09 July 2010

 

Die bekende en geliefde voormalige hoof van Hoërskool Louis Trichardt, mnr. Pikkie Truter (75), is op 2 Julie oorlede na ‘n siekbed van sowat twee jaar.

Dirk Johannes Rust Truter, alombekend as Pikkie, is op 12 November 1934 in Hopefield gebore. Nadat hy sy studies in Potchefstroom voltooi het, het Pikkie die onderwys betree. In Vanderbiljpark het hy vir Martie Botha ontmoet en is met haar getroud op 28 Maart 1970. Na die geboorte van Retha (1971) en Lizette (1973) trek die gesin in 1974 Bethal toe, waar Pikkie die pos as vise-hoof by die Hoërskool Hoogenhout aanvaar het. Vier jaar later verhuis die gesin na Brakpan, waar Pikkie adjunkhoof by Hoërskool Hoogland was. Daar het Marise (1978) en Annemie (1980) die gesin verryk. In 1982 trek die Truter-gesin Louis Trichardt toe, waar Pikkie vir 14 jaar as hoof van Louis Trichardt Hoërskool gedien het, tot met sy aftrede in 1996.

Gedurende die 28 jaar in Louis Trichardt het Pikkie waardevolle bydraes in die gemeenskap gemaak, veral op onderwys en historiese gebied. Pikkie was goed belese en ‘n kundige wat betref die geskiedenis van Suid-Afrika en die wêreld. Hy het graag by allerlei geskiedkundige plekke van belang gestop en sy kennis gedeel. Hy was aktief betrokke by die Zoutpansberg Skermutselingsroete en Erfenismuseum.

Pikkie was versot op die see en visvang van die rotse af was ‘n geliefde tydverdryf. Wanneer hy nie by die see kon wees nie, het hy daarvan gehou om saam met sy vriende te gaan jag – gewoonlik op Schalk Grobbelaar se plaas. Buite die jagseisoen het Pikkie graag geskets of geskilder.Tydens sy aftree-jare het hy met groot passie sy kunsvaardigheid en geskiedkundige kennis uitgeleef.

Pikkie was ‘n getroue lid van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente en is op Woensdag, 7 Julie, daar te ruste gelê. Die dankdiens vir sy lewe is waargeneem deur dr. Philip Venter.

Pikkie laat sy vrou Martie, vier dogters, Retha, Lizette, Marise en Annemie en vier skoonseuns (Dan, Ernst, Christiaan en Rudolf), vier kleinkinders (Marilise, Justin, Annette en Amelia), sy broer Koos, sy susters Martha en Annetjie en hul gesinne, agter.

“Sy afsterwe laat ‘n groot leemte in ons gesin en hy gaan ongelooflik gemis word. Hy was ‘n man van integriteit en ‘n steunpilaar vir sy gesinslede,” sê die gesin.

Die gesin bedank almal in die gemeenskap wat hulle die afgelope twee jaar ondersteun het tydens Pikkie se siekbed en in die besonder vir Schalk en Helena Grobbelaar vir hulle vriendskap, bystand en onderskraging.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines