ADVERTISEMENT:

 

Die roerende verhaal van generaal Koos de la Rey is op 26 Junie by Lalapanzi Hotel by ‘n Zoutpansberg Skermutselingsroete en Erfenisfunksie vertoon. Die skrywer van die teks en aanbieder in dié dokumentêre DVD, prof. Fransjohan Pretorius (regs), oorhandig ‘n kopie aan mnr. Charles Leach van die ZSR.

DVD oor De la Rey kan kollig op Soutpansberg plaas

 

News  Date: 09 July 2010

 

Die roerende verhaal van generaal Koos de la Rey is op 26 Junie by Lalapanzi Hotel by ‘n Zoutpansberg Skermutselingsroete en Erfenisfunksie vertoon. Die skrywer van die teks en aanbieder in dié dokumentêre DVD, prof. Fransjohan Pretorius, was teenwoordig by die funksie.

Pretorius, van die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria , is ‘n wêreldkenner op die gebied van die Anglo-Boereoorlog en die skrywer van verskeie boeke. Hy is bekend daarvoor dat hy daarin slaag om geskiedenis “na die man op straat te bring”.

Na aanleiding van die gewilde liedjie oor generaal De la Rey, gesing deur Bok van Blerk, het belangstelling in hierdie groot historiese figuur toegeneem. Pretorius het die teks geskryf en saam met regisseur Hennie van der Merwe van Geskroeide Aarde-faam, die taak aangepak om wat hulle noem ´n "visuele dokument” daar te stel. Die DVD is in Afrikaans en in Engels verkrygbaar.

Volgens Pretorius verpersoonlik generaal Jacobus Herculas de la Rey die allerbeste wat die Zuid-Afrikaansche Republiek tydens die Anglo–Boereoorlog in die veld kon stoot.

“Ek is diep onder die indruk van hierdie geweldige man,” sê Pretorius, wat ook ‘n boek oor De la Rey geskryf het.

"De la Rey was ’n ware leier - eerbaar, een wat gesonde verstand aan die dag gelê het en nie oor mag begaan was nie, maar oor mense. ’n Rebel was hy nooit. ’n Sterk en doelgerigte mens, in voeling met die werklikheid en die mense van sy land en die waardes wat hulle maak wat hulle is - dit was hy inderdaad,” sê Pretorius in die beskrywing van sy boek (www.republikein.com).
Die DVD toon dat De la Rey se geniale militêre strategieë en revolusionêre denke sy vele militêre suksesse tot gevolg gehad het. Pretorius sê dat De la Rey die benaming "die Leeu van Wes-Transvaal” waardig is, juis omdat hy ‘n man van vrede was.

Die werklikheid van sy tragiese dood in 1914 deur ‘n opslagkoeël tref nog meer wanneer sy baadjie en onderbaadjie met die koeëlgate in die rug vertoon word. “Sy sterwe was voortydig, maar sy statuur bly groei soos navorsing hom uitwys as een van die grootste Afrikaners van alle tye,” sê Pretorius.

Die DVD beeld duidelik uit hoe De la Rey sy afhanklikheid van God uitgeleef het.

“Ons kan by hierdie mense leer van nabyheid met hulle God. Tydens die Anglo-Boereoorlog was die toestande baie erger as wat ons ons kan indink. Hulle het regtig nie geweet wat die toekoms inhou nie. Hoe naby is ons aan ons Meester en hoeveel glo ons dat Hy die toekoms van hierdie land bestuur?” het Pretorius in ‘n onderhoud gesê.

Die vertoon van die DVD het onwillekeurig die vraag laat ontstaan of dit tyd geword het vir die vervaardiging van ‘n dokumentêre film in die Soutpansberg wat die dramatiese gebeure kan vaslê wat in hierdie omgewing tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) plaasgevind het.

“As ‘n dokumentêr hier gemaak word, sal dit ‘n fantastiese historiese en kulturele bydrae wees. Hierdie is van die emosionele oomblike in die Anglo-Boere-oorlog. Alles is reeds bymekaar. Die mense, materiaal, gesindheid en wil is hier. Dit moet net gedoen word, veral terwyl hierdie mense nog lewe,” het Pretorius gesê.

Met hierdie mense het hy verwys na Charles Leach en al die ZSR en erfenismuseum vriende. Leach is reeds in die finale fase van sy navorsing, veral met betrekking tot die rol van die Bushveldt Carbineers tydens die besetting van die Spelonken tydens die Anglo-Boereoorlog.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines