ADVERTISEMENT:

 

Dr. Philip Venter met ‘n eksemplaar van die proefskrif vir sy tweede doktorsgraad en die ontwerp op die stofomslag van sy nuwe boek, die oorlogsroman Helene. Dit is sy tweede boek. ‘n Derde boek is reeds op pad.

Dominee voltooi tweede doktorsgraad, publiseer roman

 

News  Date: 09 July 2010

 

Vir dr. Philip Venter van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente op Louis Trichardt is daar vandeesweek dubbele rede tot vreugde - hy het die eksamen vir sy tweede doktorsgraad met lof geslaag en ook die eerste eksemplare van sy tweede boek ontvang.

Dr. Venter het sy eerste Teologiese doktorsgraad in Dogmatologie (D.Th) in 1995 aan UNISA verwerf. In 1997 het hy ‘n meestersgraad in Nuwe Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria behaal. In sy proefskrif vir die D.-graad het hy dié twee teologiese dissiplines gekombineer in die onderwerp: Nuwe Testamentiese Perspektiewe op die Doop as Herhaalbare Verbondsteken – ‘n Eksegeties-Dogmatologiese ondersoek.

In die eksamen en in die verdediging van sy tesis het hy besonder gunstige terugvoer ontvang, ook van die twee buitelandse akademici op die paneel. Die universiteit se gradeplegtigheid is in September vanjaar.

Die tesis bevat beduidende nuwe insigte oor die doop.

“Die Here werk met mense en nie met formules nie. Die kerk het in sy soeke na gerealiseerde mistiek van die doop ‘n formule gemaak en is dan verbaas wanneer dit nie aan die geloofsverwagting van die post-moderne Christen voldoen nie,” lui een opmerking in die tesis.

Dr. Venter sê egter: “My siening is steeds dat die doop ‘n verbondshandeling is - twee tekens: Dat die gedoopte reeds in die verbond ingesluit is en ‘n seël van God se verlossingsboodskap ontvang.”

Dr Venter sê hy is reeds besig met ‘n vereenvoudigde weergawe van die tesis-inhoud in ‘n boek wat dit in leketaal vir die gewone leser toeganklik maak. Dit sal benewens ‘n ontleding van die nege belangrikste skrifgedeeltes oor die doop, ook onbevooroordeeld die kronologiese groei, ontwikkeling en openbaring van die doop weergee. Die boek behoort oor ‘n paar maande gereed te wees.

Dit sal dr. Venter se eerste populêr godsdienstige boek wees. Hy het egter reeds twee ander boeke op sy kerfstok.

Sy eerste, Ek was daar, was in ligte luim - sy terugskouing op die Bosoorlog. Sy tweede, wat vandeesweek van die drukpers af kom, het die titel Helene. Dit is wesentlik ‘n oorlogsroman. Dit handel oor die wedervaringe van ‘n soldaat tydens die 1985 onluste in ‘n Oos-Randse township en sy ontmoeting met ‘n Franse joernalis in dié gevaarsituasie.

Die eerste 100 eksemplare van die boek het vandeesweek op Louis Trichardt aangekom en is teen R165 per eksemplaar beskikbaar by Dr. Venter.

Hy sê hy het die boek deur die loop van verlede jaar, so tussendeur al sy ander aktiwiteite, geskryf.

“So ‘n stukkie elke dag.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines