ADVERTISEMENT:

 

Kenners meen spoedlesings is absurd

 

News  Date: 16 July 2010

 

Was dit moontlik vir hom om so vinnig te ry? Dit is steeds die vraag in baie se gemoed wat betref die arrestasie van ‘n verkeersbeampte van Louis Trichardt, mnr. Job Munyai, nadat hy glo 274km/h op die N1 suid na Polokwane gery het.

Motorkeners meen dit was fisies onmoontlik vir Munyai om hierdie snelheid te ry in sy tweedehandse Mercedes Benz C200 Kompressor, wat die vraag laat ontstaan of die nuwe mobiele spoedmeters wat gebruik is om hom vas te trek, korrek aangewend is deur die verkeersbeamptes. Intussen is dit vanuit hofgeledere bevestig dat, buiten Munyai se vertoë teen die boetekaartjie, ‘n verdere agt vertoë ontvang is van ander motoriste wat ook gearresteer is op klagte dat hulle ‘n buitensporige hoë snelheid op dieselfde pad gery het. Sewe van die boetekaartjies is in een week uitgereik.

In een van die gevalle is ‘n Citi Golf afgetrek nadat dit glo teen 260km/h gery het. Meeste van die motoriste wat vertoë gerig het, beweer ook dat die verkeersbeamptes wat hulle afgetrek het eers omkoopgeld gevra het en, as hulle nie kon betaal nie, is hulle summier in hegtenis geneem.

Munyai het verlede Vrydag in die Sekgosese landdroshof op Morebeng (Soekmekaar) verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Al nege sake is uitgestel tot 27 September, terwyl daar gewag word vir die Direkteur van Openbare Vervolging se beslissing of daar voortgegaan moet word met vervolging.

Motorkenners het egter vandeesweek die situasie as lagwekkend beskryf en tong in die kies opgemerk dat die enigste manier hoe Munyai daardie snelheid kon haal, was as hy teen ´n baie lang afdraende gery het.

‘n Produkspesialis van Mercedes-Benz Suid-Afrika, mnr. Graeme Ingram, het gesê dit is onmoontlik vir Munyai se Mercedes om so vinnig te ry en dat die betrokke model se topspoed 232km/h op seevlak is.

"Ons het lekker gelag toe ons van die storie gehoor het," het Ingram gesê.

Volgens hom kan die voertuig moontlik ‘n topspoed van 280km/h haal as die enjin vervang word met ‘n hoë-verrigting enjin, soos ‘n AGM-enjin. Só ‘n enjin sou Munyai egter drie keer die prys van sy motor uit die sak gejaag het. Sy gevolgtrekking was dat daar ´n groot skroef los is met die spoedmeterlesings.

"Dit is fisies nie moontlik vir hom om so vinnig te ry nie."

Volgens mnr. Rudi Gebert, direkteur van Truvelo, een van die grootste vervaardigers van spoedmeterlesers in Suid-Afrika, moet ‘n spoedmeter aan heelwat vereistes voldoen, anders kan dit ‘n verkeerde lesing gee.

Hy het die vervolgingsriglyne soos wat dit deur die Technical Committee for Standards and Procedures for Traffic Control and Traffic Control Equipment aanbeveel word, aangehaal wat hierdie voorwaardes betref.

Volgens hierdie riglyne moet enige spoedmeter elke ses maande deur ‘n geregistreerde laboratorium gekalibreer word en word daar ‘n kalibrasiesertifikaat uitgereik.

Ook die operateur van die spoedmeter moet opgelei word in die korrekte hantering van die spoedmeterleser.

Volgens Gebert sal mens eers die fout kan bepaal as die video- en klankopname van die spoedmeter ondersoek word.

Die provinsiale verkeersdepartement was egter verlede week onbewus van die vertoë wat gerig is en het voet by stuk gehou dat Munyai teen 274km/h gery het.

Mnr. Gordon Horn van die Limpopo Verkeersdepartement het dadelik kapsie aangeteken en gesê dat al hulle toerusting in orde was. Hy het die mening uitgespreek dat al die betrokke voertuie “warmgemaak is".

“Ek het al ondervind dat in sulke gevalle dit motors is wat reeds onder hul waarborg uit is, wat deur hul eienaars warmgemaak word,” het hy gesê.

Volgens hom is die meters nog relatief nuut en word dit gereeld gekalibreer, wat ‘n verkeerde lesing buite die kwessie maak.

“Al ons spoedmeters en beamptes het die nodige sertifikate,” het hy gesê. Hy het verder onderneem om die saak onder sy hoofde, asook die Departement van Vervoer se provinsiale woordvoerder, me. Clarissa Naidoo, se aandag te bring.

Teen druktyd het die Zoutpansberger egter net ‘n e-pos van me. Naidoo ontvang ter bevestiging dat die saak na haar hoofde verwys is vir verdere ondersoek.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines