

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 July 2010
‘n Prominente plaaslike besigheid staan klaarblyklik op die punt om te likwideer, met talle skuldeisers wat bekommerd is oor honderde duisende rande wat hulle in die proses gaan verloor. Wat skuldeisers egter hoogs ontstoke maak, is die feit dat die besturende lid van die beslote korporasie duidelik nie sy eie kooplus aan bande lê nie en steeds groot bedrae geld spandeer op luukshede.
Nolada 9 CC, wat handel dryf as Woodstock Designer Kitchens, ondervind reeds ‘n geruime tyd finansiële probleme. ‘n Krediteur van Polokwane het in April vanjaar ‘n beslagleggingsbevel verkry op een van die voertuie. Die uitstaande skuld by dié krediteur was in daardie stadium net meer as R55 000. Dit het egter later geblyk dat geen van die voertuie of ander bates op die besigheid se naam geregistreer is nie en daar kon dus nie voortgegaan word met die geregtelike verkoping nie.
In ‘n beëdigde verklaring wat aan sekere van die krediteure gestuur is, sê mnr. Arnoldus Venter dat Woodstock Designer Kitchens die voertuie, asook die masjinerie, van hom huur. Sy seun, Pieter Venter, is die besturende lid van Nolada 9 CC. In die verklaring beweer mnr. Arnoldus Venter dat sy seun ook agterstallig is met die huurgeld vir die perseel en bates.
In ‘n skrywe wat op 11 Junie aan Nolada 9 CC se krediteure gestuur is deur hul prokureur, mnr. Charles Pieterse, word die feit dat die besigheid ernstige finansiële probleme ondervind weereens beklemtoon. “Ons is nog op afwagting van die volledige inligting maar, volgens die inligting reeds tot ons beskikking, is dit duidelik dat ons kliënt se laste die bates oorskry,” skryf mnr. Pieterse.
Die brief verwys na die besigheid se talle krediteure waarvan verskeie reeds begin het met regsaksies om die geld in te vorder. Dit spel ook die verskillende opsies uit vir krediteure en maak voorstelle oor hoe die situasie opgelos kan word. “Ons kliënt het ons egter meegedeel dat hul gekose wyse waarmee hul die finansiële verknorsing sal wil probeer red die opsies sal wees om krediteure pro-rata te probeer afbetaal, alternatiewelik om skikkingsaanbiedinge aan hulle te maak vir volle en finale vereffening vanuit die gelde van debiteure en ander drastiese stappe so te probeer vermy,” skryf mnr. Pieterse.
Te midde van die skuldonderhandelinge, gaan Woodstock se besturende lid, Pieter Venter, egter voort en handhaaf ‘n luukse lewenstyl. In Januarie vanjaar was hy en sy vrou onder meer op ‘n luukse bootreis op die MSC Sinfonia.
‘n Insident wat krediteure bietjie warm onder die kraag gelaat het, het verlede week by die plaaslike gholfklub plaasgevind, waar Pieter Venter opgetree het asof geld nie ‘n kwessie is nie. Hy was een van die bieërs tydens die veiling van spelers wat die jaarlikse Hanglip 54-gholftoernooi voorafgegaan het. Venter het altesaam R32 000 gespandeer tydens die veiling, wat grootliks ‘n geldinsamelingsaksie is vir die gholfklub. Na afloop van die toernooi het hy weer R4 000 “teruggewen”, wat sy bydrae aan die klub op R28 000 te staan gebring het.
Van die krediteure het ook aangedui dat hulle die moontlikheid ondersoek om Venter strafregtelik te laat vervolg. Volgens die Wet op Maatskappye en Beslote Korporasies is dit onwettig om ‘n besigheid te bedryf as jou laste jou bates oorskry. Hulle voer aan dat Venter al ‘n geruime tyd bewus was van die feit dat sy laste sy bates oorskry, maar ten spyte daarvan het die besigheid voortgegaan en meer skuld aangegaan.
Pogings om ‘n staat van laste en bates van die besigheid te verkry was nog onsuksesvol. Woodstock se regsverteenwoordiger, mnr. Pieterse, het onderneem om meer inligting te verskaf sodra alle inligting van krediteure en debiteure versamel is.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
