ADVERTISEMENT:

 

VV vra minister moet ingryp in naamstryd

 

News  Date: 16 July 2010

 

Die Minister van Kuns en Kultuur is gevra om in te gryp in die proses om die naam van Louis Trichardt te verander.

Die Voorsittersvereniging (VV) het minister Lulu Xingwana in ‘n brief versoek om tussenbeide te tree in die aansoek deur die Makhado Munisipaliteit om die naam van die dorp na Makhado te verander. Minister Xingwana is ook gevra om toe te stem tot ‘n ontmoeting met die uitvoerende komitee van die VV.

“Ons het gevra vir ‘n vergadering met die minister. Die klimaat het gedraai en die sokker het mense saamgesnoer. Ons hoop hulle word volwasse en hou op om mense te wil polariseer met die naamsverandering,” het die voorsitter van die VV, mnr. André Naudé, op 10 Julie gesê.

Die aansoek van die munisipaliteit om die dorp se naam na Makhado te verander is deur die provinsiale naamskomitee aanvaar en deurgestuur na die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamsraad (SAGNR), wat begin Mei vanjaar in die media gesê het dat hulle die naam Makhado aan die minister aanbeveel het. Minister Xingwana het nog geen aankondiging oor die naamsverandering in die staatskoerant gemaak nie.

Die brief van die VV aan die minister is gedateer 21 Mei en geen reaksie is nog ontvang nie. Die stilswye is algemeen toegeskryf aan die bedrywige tyd wat parlementslede met die sokker Wêreldbeker gehad het. In die brief aan die minister het die VV die onbehoorlike optrede (improper conduct) van die voorsitter van die SAGR, adv. Tommy Ntsewa, uitgelig. Hulle het gevra dat die oprede van adv. Ntsewa en sekere lede van die naamsraad deur die minister ondersoek word.

Die VV het reeds tevore in korrespondensie geëis dat bevooroordeelde lede van die naamsraad moet onttrek. Daar is verwys na adv. Ntsewa se beëdigde verklaring by die appèlhof waarin hy gesê het dat konsultasie vir die verandering van die dorp se naam nie nodig is nie. Na klagtes oor bevooroordeeldheid, het adv. Ntsewa nie saamgekom toe die nasionale naamsraad Louis Trichardt op 4 Februarie vanjaar op‘n feitesending besoek het nie. Lede van die nasionale naamsraad en ‘n afvaardiging van die Makhado Munisipaliteit was teenwoordig by dié vergadering by La Ndou Gastehuis. Die Voorsittervereniging was nie teenwoordig nie.

Die VV het sedert die tweede rondte om die naam van die dorp te verander van stapel gsestuur is, verskeie kere gevra vir afskrifte van notules, aanbevelings en besluite van die naamskomitee van die Makhado Munisipaliteit, die provinsiale naamskomitee en die nasionlae naamsraad. Hulle het besware aangeteken teen al die prosesse wat gevolg is en dit nie as konsultasie beskou nie.

Met die eerste rondte het die saak in die hooggeregshof gedraai en het Regter MK Legodi op 8 September 2005 uitspraak gegee dat die dorp se naam moet verander na Makhado. Die Voorsittersverening het appèl aangeteken en die appèl is op 17 Februarie 2007 aangehoor. Die appèlhof met sy paneel regters het in Maart dieselfde jaar uitspraak gelewer dat die naamsverandering tersyde gestel moet word, waarna die dorp se naam weer Louis Trichardt was.

Die VV vra in hul brief dat die minister nie reageer op die SAGR-aanbeveling alvorens alle kaarte op die tafel geplaas is nie, of totdat die VV die geleentheid gehad het om die redes vir die aanbeveling, asook die aanbeveling self, te bestudeer nie. Wanneer die VV die aanbeveling en die redes daarvoor onder oë gehad het, sal hulle op ingeligte wyse op die aanbevelings kan reageer.

“Dit is duidelik dat die SAGR nie ‘n deursigtige proses volg nie en dit terwyl hulle ‘n aanbeveling maak wat van nasionale belang is,” lui die VV se brief.

Die VV het gevra om datums te ontvang waarop die minister hul komitee kan ontmoet en stel voor dat Pretoria ‘n sentrale plek vir ontmoeting is. Hulle vra ook dat hulle van ten minste een maand voor die ontmoetingsdatum in kennis gestel moet word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines