

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 July 2010
Met die euforie van ‘n geslaagde sokker Wêreldbeker pas agter die rug, slaak heelwat plaaslike ondernemings in Louis Trichardt egter ‘n sug van verligting.
“Terwyl Bafana Bafana nog in die resies was, was dit baie stil. Toe hulle uit is, was dit besigheid soos gewoonlik!” sê me. Jana Smith van Harcourts, ‘n eiendomsbesigheid.
Mnr. Iain Purdon sê dat die amper vyf-week lange skoolvakansie ‘n negatiewe invloed gehad het op sy meubelhandel, Office National Maranga Phanda, met dié dat die Staat ook net op halfsterkte gewerk het.
Purdon is ook die voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer.
“Die invloed van die lang sokkervakansie op die plaaslike besighede het afgehang van watter tipe besigheid dit is. Ons val ook nie heeltemal in die gebied waar die sokker gebeur het nie,” sê Purdon. Hy sê egter dat ‘n familielid wat ‘n kroeg in die Haenertsburg-omgewing bedryf, uitstekende sake gedoen het.
“Dit het nie by die motorhawe ‘n verskil gemaak nie. Die enigste verskil was dat almal in ‘n vrolike bui was. Daar was enkele uitsonderings, maar mense was baie meer gemoedelik. Ek hoop dat hierdie lekker gees so sal aanhou. Die Wêreldbeker het baie beteken vir ons land,” sê me. André Gilfillan van Bridge Auto. Sy sê ook dat terwyl wedstryde aan die gang was, daar baie min mense brandstof ingegooi het, maar dat verkope dan die volgende dag weer opgetel het.
Vanuit die bankwese sê mnr. Riaan Bosshoff van Eerste Nasionale Bank dat dit die laaste ruk baie stiller was en dat die maandeinde nie soos gewoonlik was nie. “Daar was minder voete in die tak en ook minder beskikbare kontant,” sê Boshoff.
Mnr. Jan Kleynhans van die restaurantbedryf klink meer optimisties. Tydens skoolvakansies maak kinders en gesinne meer dikwels van die geleentheid gebruik om te gaan uiteet. Dan het daar ook van die mense van buite op hulle pad na die wildtuin toe van die restaurant se fasiliteite gebruik gemaak.
“Ek sou sê dit was die normale oplewing in die skoolvakansie by Mike’s Kitchen, met ‘n klein bietjie besigheid van buite by,” sê Kleynhans.
“Die lang sokkervakansie het ons nie drasties beïnvloed nie. Besigheid sal maar altyd ‘n bietjie afneem in ‘n vakansie,” sê mnr. Louis Jordaan, bestuurder van Pick ´n Pay.
Me. Inga Gilfillan van die Lalapanzi Hotel sê dat die gewone besigheidsmense wat sou reis, gedurende die sokkertyd weggebly het.
“Dit het ons negatief beïnvloed, maar ek is bly vir die ander besighede wat goed gedoen het en gun dit vir hulle,” sê Gilfillan.
‘n Onverwagse en interessante oorspoel uit Polokwane het na die kant van Leach Printers gekom.
"Omdat die Polokwane drukkers nie die lading industriële naamborde kon hanteer nie, het ‘n bietjie daarvan na ons kant gekom. Dit is positief op die langtermyn, omdat mense daar nou van ons weet,” sê me. Bev Leach.
Uit die openbare vervoersektor sê taksi-eienaar mnr. Titus Sadiki dat mense nie van sy vervoer gebruik gemaak het om by die sokker stadions te kom nie. In daardie opsig was dit baie stil in Louis Trichardt. ”Maar in die skoolvakansies is daar meer kinders wat dorp toe wil kom en in daardie opsig was dit besiger,” sê Sadiki.
Mnr. Henk Vermaak van Louis Trichardt Radio en Elektriese Sentrum sê dat besigheid dieselfde was en dat hy geen verskil agtergekom het gedurende die lang vakansie nie.
‘n Afname in besigheid is waargeneem deur mnr. Kala Jakoob, wat ‘n kafee naby die N1 besit. “Normaalweg neem besigheid toe in die vakansie, maar hoewel daar beweging was, was daar nie besigheid nie,” sê Jakoob.
Mnr. Adrian Joubert, eienaar van Woolworths, sê dat hulle die gewone konstante groei by die kosafdeling ondervind het, maar ‘n afname by die tekstiel. “In die geheel het die Wêreldbeker dus nie my besigheid geraak nie,” sê Joubert.
‘n Klein oplewing in een afdeling kon nie die effek van die ongewone lang skoolvakansie uitbalanseer nie, was die ondervinding van mnr. Lucas en me. Rina Vermeulen van LCV promosies, borduurwerk en drukwerk en Funky Bush klere. “Ons het ‘n klompie sokkerhemde gedoen vir die plaaslike mense. Dit het nie geboom nie, maar dit was nie negatief nie,” sê Lucas. Rina voeg by dat mense weggegaan het en verplig was om vakansie te neem in ‘n tyd wanneer hulle nie normaalweg vakansie sou neem nie. “Dit het veroorsaak dat daar op die lang duur minder voete was,” sê Rina.
‘n Sakeman wat regtig bly is dat die lang vakansie verby is, is mnr. Gert van der Westhuizen van Just Water. Die kliënte wat kom suiwer water koop, is dikwels ouers wat die kinders skool toe neem en gou daar stilhou vir hulle water en die skool self is ook ‘n gewaardeerde kliënt. “Ek is bly die skole begin en die sokker is verby,” het Van der Westhuizen aan ‘n kliënt gesê.
Die ekonomiese oplewing wat met die sokker Wêreldbeker gepaardgegaan het, was hoofsaaklik beperk tot die streke waar die sokkerwedstryde plaasgevind het. Die goedgekeurde handelaars van ware soos sokkerklere, bykomstighede, landsvlae en vuvuzelas het uitstekende sake gedoen. Volgens www.iol.co.za het Minister van Finansies Pravin Gordhan gesê dat die regering ongeveer R30 biljoen op vervoer, telekommunikasie en die stadions gespandeer het. Die 350 000 besoekers het sowat R15 biljoen bygedra tot die ekonomie. Die Suid-Afrikaanse Sakekamer voorsitter, Neren Rau, het gesê dat hoewel besigheid ‘n oplewing getoon het met die Wêreldbeker, dit te vroeg is om te sê wat die langtermyn impak gaan wees.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
