ADVERTISEMENT:

 

Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie is beïndruk met die Departement van Vervoer se herstelwerk aan die Louis Trichardt/Thohoyandou-pad. Herstelwerk aan twee brûe se reëlings, wat deur ongelukke beskadig is, is reeds sigbaar.

Boere dankbaar dat pad eindelik aandag kry

 

News  Date: 16 July 2010

 

Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU) het hierdie week hul waardering uitgespreek teenoor die Departement van Vervoer vir die uitgebreide herstelwerk wat tans plaasvind op die pad tussen Louis Trichardt en Thohoyandou.

“Waar slegte slaggate voorkom, word moeite gedoen om dit te herstel. Motoriste word versoek om geduldig te wees met die padwerke. Daar is ‘n groot aantal gevaarlike slaggate wat nou herstel word,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, gesê.

As deel van die herstelwerk, is die reëlings van twee brûe, wat tydens ongelukke verniel is, ook reeds herstel. Daar word ook groot moeite gedoen om die skouers van die pad te herstel.

“Op sommige plekke was die skouers gevaarlik laer as die teeroppervlak en kon ongelukke maklik plaasvind. Die herstelwerk sal die probleem oplos,” het Hoffman gesê.

Wat betref die herstelwerk aan die Lutanandwa-brug, wat in November 2008 ineengestort het, het Hoffman gesê dat die voltooiing van die brug groot verligting vir boere in die Levubu-omgewing sal bring.

“Swaar verkeer en swaar vragmotors het die paaie in en om Levubu grootliks verwoes. Die swaar verkeer was ook ‘n beduidende gevaar vir die mense in daardie gebied,” het Hoffman gesê.

Daar word bereken dat die pad tussen Louis Trichardt en Thohoyandou teen September vanjaar weer oopgestel sal word.

“Die begroting vir die brug is opgestel, maar die ekstra begroting vir die motoriste is nog nooit op skrif gestel nie. Die ompad is ongeveer 10km verder. Sommige swaar voertuie ry teen R12 per kilometer. Die tarief vir sedan voertuie is R4 per kilometer. Een van die boere in die omgewing het aangedui dat sy voertuie tot vier maal per dag daardie ompad moes ry. Dit beteken dit is 80km-retoer verder wat gery is, omdat die brug buite orde was. Dit werk uit op R320 per dag wat deur een boer ekstra betaal word, net omdat die pad nie begaanbaar is nie. Indien dit swaarvoertuie was, sou dit die boer ‘n addisionele R960 per dag uit die sak gejaag het,” het Hoffman gesê. Hy sê die ‘stukkende’ brug wys duidelik die ontsaglike effek van vervalle infrastruktuur op die ekonomie.

“Dit word betreur dat die Departement van Vervoer so lank gevat het om die brug te herstel. Dit het die ekonomie van die Soutpansberg-gebied dramaties beïnvloed en die winsgewendheid van besighede in die gebied belemmer,” het Hoffman gesê.

In die algemeen was Hoffman egter van mening dat die herstelwerk dramaties die gevaar wat die pad vir motoriste ingehou het, sal verminder. Hy het Mnr. Michael Rademeyer bedank wat gereeld die SDLU vergaderings bywoon.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines