

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 July 2010
Was dit nie vir die koelkop optrede van plaaslike vlieënier Lizet Joubert nie, het Dinsdag se vliegongeluk buite Louis Trichardt moontlik ´n noodlottige einde gehad.
Joubert, ´n gesoute vlieënier, tree vir die afgelope drie jaar op as loods vir P&L Hardeware. Sy het Dinsdagoggend saam met een van die maatskappy se hoof aankopers, me. Poppie Smit van Musina, in die maatskappy se Piper Cherokee na Nelspruit vetrek. Poppie sou daar onderhoude voer vir die aanstel van ‘n nuwe bestuurder vir die maatskappy se tak op Witrivier. Kort nadat hulle opgestyg het, het die vliegtuig se enjin egter probleme gegee en sekondes later het Lizet en Poppie in die veld net suid van Tshikota neergestort. Wonderbaarlik het beide vroue die ongeluk redelik ongeskonde oorleef.
"Alles het so vinnig gebeur," het Lizet na die ongeluk aan die Zoutpansberger vertel. Sy vermoed die enjinprobleme het iets met die brandstoftoevoer te doen gehad, aangesien die enjin maar min vliegure opgehad het.
“Die motor het ‘n groot lawaai gemaak, en as die motor gaan staan, kan jy maar weet daar is moeilikheid,” het Lizet vertel.
Omdat die vliegtuig nog besig was om op te styg, was dit te laag vir Lizet om terug te draai na die aanloopbaan. Haar enigste opsie was om die vliegtuig so reguit as moontlik te hou en te mik vir ´n betreklike oop stuk veld voordat hulle die grond sou tref.
"In daardie stadium bly mens net gefokus en doen wat jy moet,” het Joubert gesê.
Lizet het ‘n ou geploegde land gewaar en besluit om daar haar noodlanding uit te voer. Ongelukkig vir Lizet en Poppie het die lang gras egter ´n diep sloop verberg, en kort nadat die wiele grond geraak het, is feitlik die hele vliegtuig se onderstel afgeruk. Die vliegtuig se regtervlerk is bykans heeltemal afgeskeur, waarna die vliegtuig vir etlike meters deur bome en bosse geploeg het voordat dit tot stilstand gekom het.
"Hulle moes die grond hard getref het," het ´n omstander, wat self ook vlieg, opgemerk.
Lizet het kneusplekke en snywonde aan die gesig opgedoen en moes steke in haar bo-lip kry. Poppie is na die Zoutpansberg Privaathospitaal afgevoer, nadat sy van pyn in haar rug en nek gekla het. Sy moes ook steke aan haar kop kry om ‘n lelike sny toe te werk.
“Daar was net bloed orals gewees,” het Poppie vanuit haar hospitaalbed vertel.
Ná die twee se noodlanding het Poppie oor die agterste sitplekke van die vliegtuig geklim om eers haar handsak en skootrekenaar te gryp, voordat sy en Lizet saam na veiligheid gehardloop het.
“Die rekenaarsak het nog steeds bloedvlekke op. Ná die ongeluk was ek nog boonop bekommerd dat Lizet my hare deurmekaar krap soos wat sy die bloed probeer stop het,” het Poppie skertsend opgemerk.
Lizet is deur talle mense geloof vir die wyse waarop sy die situasie hanteer het en die noodlanding uitgevoer het.
"Sy het beheer oor die vliegtuig gehad tot net voordat dit die grond getref het," het Poppie opgemerk.
"Haar werkgewer, Mnr. André Prinsloo, het ook gesê dat as dit nie vir Lizet se kalmte was nie, dan sou ons beslis nie lewendig uit daardie vliegtuig gekom het nie," het Poppie bygevoeg.

ADVERTISEMENT:
