

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 July 2010
Ná net twee weke agter tralies het die veroordeelde Basie van der Merwe se gesondheid so agteruitgegaan dat hy verlede week bedlêend was en nou oorweeg om aansoek te doen vir mediese parool.
Van der Merwe, ‘n oud-onderwyser, het op 6 Julie begin om sy ses-jaar-lange gevangenisstraf uit te dien, nadat hy in die streekhof op Louis Trichardt daaraan skuldig bevind is dat hy vir ´n jaar lank ´n seun onsedelik aangerand het, terwyl hy ´n onderwyser by Hoërskool Eric Louw op Musina was. Hy was ook rugbyafrigter by die skool.
Van der Merwe se skoonsuster, me. Daisy van der Merwe, het die afgelope week haar swaer se lot agter tralies bepleit. Volgens haar ly Basie al meer as 15 jaar aan kroniese hoë bloeddruk, cholesterol en jig.
‘n Vriendin van Basie, me. Elize van der Merwe, het hom by die staatsgevangenis op Louis Trichardt besoek vyf dae nadat hy opgesluit is om sy kroniese medikasie vir hom te bring. Volgens haar het beamptes egter geweier dat sy die medikasie vir hom gee, aangesien dit teen hul regulasies was. Sy sê sy is toe aangesê om ´n voorskrif vir die medisyne by die gevangenis se kliniek in te dien, sodat hulle die medisyne aan hom kon verskaf.
Só ‘n voorskrif is ingedien deur dr. Barbara Cawood. Op die voorskrif het Cawood ook duidelik aangedui dat sou Basie nie sy kroniese medisyne ontvang nie, dit sy lewe in gevaar sou stel.
Volgens Daisy het Basie hulle egter meegedeel dat hy, ten spyte van die voorskrif, steeds nie sy kroniese medikasie ontvang het nie. Daisy en haar man, Janus (Basie se broer), het toe vir Basie gaan besoek en was "uiters geskok" om hom in ´n rolstoel aan te tref.
“Hy was in die siekeboeg opgeneem en kon nie meer loop nie. Hy was regtig baie siek,” het Daisy verlede week vanuit Johannesburg gesê.
Nadat Daisy niks kon uitrig by die gevangenis nie, het sy by die provinsiale bestuurder van die Menseregtekommissie, mnr. Jeffrey Nkuna, vir hulp gaan aanklop.
Volgens briefwisseling tussen die gevangenis en die Menseregtekommissie, het Basie op 16 Julie gekla van pyn, waarna hy na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal geneem is. Hier, sê die gevangenis, het ´n dokter aanbeveel dat hy opgeneem word, maar dat Basie geweier het. Drie dae later, skryf die gevangenis, is Basie weer hospitaal toe vir ‘n opvolgbesoek. Tydens dié besoek, sê die gevangenis, is daar aan hom medikasie voorgeskryf en gegee.
Daisy sê egter dat geen kroniese medikasie aan Basie gegee is tydens sy besoek aan die hospitaal nie en dat hy bloot ´n Voltaren-inspuiting en ´n voorskrif vir drie Brufen-pyntablette per dag ontvang het. Basie het die afgelope week ook sy skoonsuster per telefoon meegedeel dat hy nie na die hospitaal geneem is nadat hy gekla het oor pyn nie, maar wel omdat hy sy bewussyn verloor het. Hy het wel bevestig dat hy geweier het om opgeneem te word, aangesien die hospitaal in elk geval nie sy medikasie gehad het nie.
Met hierdie inligting is Daisy weer Menseregtekommissie toe. Sy is die versekering gegee dat hulle Basie in die gevangenis sou besoek en dat hulle ook ´n lys van medikasie wat hy tans ontvang, sou aanvra.
By navraag het mnr. M. J. Museri, hoof van die gevangenis, aan die Zoutpansberger gesê hy is bewus van Daisy se brief aan die Menseregtekommissie, maar dat die “inligting daarin verkeerd is”.
“Hy ontvang sy medikasie,” het Museri gesê.
Teen druktyd het die gevangenis nog nie die lys van medikasie wat aan Basie gegee word aan die Menseregtekommissie verskaf nie. ‘n Plaaslike dokter het egter na die Zoutpansberger se oproep vir Basie besoek en tans ontvang hy tans 12 kortisoonpille en ‘n Voltaren-inspuiting per dag.
Daisy het aan die Zoutpansberger gesê dat Basie verlede Saterdag vir die eerste keer uit die bed kon opstaan en homself kon bad.
“Dit is vir ons as familie moeilik om te aanvaar dat Basie nie sy medikasie ontvang nie en daar toegelaat word dat hy so agteruit gaan. Dit is om hierdie rede dat ons met sy advokaat begin konsulteer het rakende mediese parool,” het Daisy Maandag gesê.

ADVERTISEMENT:
