ADVERTISEMENT:

 

Sakeman weer in hof oor polisie-moles

 

News  Date: 30 July 2010

 

Bykans ´n jaar na sy arrestasie het mnr. Quintin Thompson (38), mede-eienaar en werkswinkelbestuurder van Thompson´s Motors op Louis Trichardt, se verhoor begin in die landdroshof op Louis Trichardt.

Thompson is aanvanklik gearresteer op een klag vir die besit van ´n vermoedelik-gesteelde voertuig, een klag vir dwarsboming van die gereg, een klag vir die verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte en een klag van die aanranding van ‘n polisiebeampte.

Thompson het egter Dinsdag net verskyn op een klag van die verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte. Dié klag teen hom spruit uit ‘n voorval verlede jaar toe Thompson gearresteer is in wat beskou is as ´n onregmatige arrestasie deur polisiebeamptes wat sonder ‘n lasbrief of identifikasie sy sakeperseel binnegestorm het.

Altesaam nege polisiebeamptes het op Dinsdag, 21 Julie die werkswinkel ingekom en na ‘n voertuig op een van die hysers begin kyk.

Nadat Thompson hulle gewaarsku het om nie die voertuig te veel rond te pluk nie, omdat dit dalk op hulle kon val, het die polisielede vir hom gesê dat hulle hom gaan arresteer omdat hy in besit is van ‘n gesteelde voertuig. Die polisiemanne het ook na bewering geweier om hulself te identifiseer.

Na die arrestasie is Thompson in aanhouding in die plaaslike polisieselle geplaas sonder verlof tot na-ure borgtog.

Tydens Dinsdag se hofverskyning het die Staat se eerste getuie, kapt. Muhlange, getuig dat hy nie deur Thompson gehinder is terwyl hy die voertuig se VIN-nommer ondersoek het nie. Hy het ook verder getuig dat hy nie homself aan Thompson geïdentifiseer het nie, omdat dit glo sy hoofde se plig was om hulself te identifiseer.

Thompson se saak is uitgestel tot 12 Augustus, waarna die verhoor na alle verwagting afgehandel sal word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines