

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 July 2010
“Tot my kerkskoene was vol water!” vertel tannie Gina van Rooyen van Laat Lente op Louis Trichardt, nadat water uit haar warmwatertoestel haar huisie ingestroom het.
Tannie Gina (68) se meubels moes alles inderhaas op een hoop in haar sitkamertjie gestapel word, nadat water uit haar warmwatertoestel soos ´n waterval uit haar plafon gestroom het. Laat Lente, asook die aangrensende Herfsakker, bestaan uit munisipale wooneenhede met die Makhado Munisipaliteit wat veronderstel is om gereelde instandhouding aan die eenhede te verrig.
“Ek is so jammer vir haar oor wat gebeur het. Sy is een van ons nuwe intrekkers,” sê tannie Jackie Nieuwenhuizen, ´n buurvrou.
Tannie Gina, wat sedert 1 April in Laat Lente woon, slaap nou noodgedwonge tydelik by haar kinders. Die warmwatertoestel, wat bo in die plafon van die badkamer geïnstalleer is, het sowat drie weke gelede begin moeilikheid gee.
Tannie Gina sê dat die munisipaliteit gereageer het, maar dat die persoon by meer as een geleentheid uitgekom het sonder ‘n leer of gereedskap. Later het die munisipale loodgieter ‘n leer iewers bekom en gesê dat die klep foutief is, maar dat hulle nie voorraad het om dit te vervang nie. Op dieselfde dag, 22 Julie, het die elektrisiën opgedaag. “Hy was bo in die plafon en daar was harde kapgeluide. Hy het my die versekering gegee dat hy die kraan bo by die warmwatertoestel toegemaak het. Ek het ook die buitekraan gaan toemaak,” sê Tannie Gina. Groot was haar verbasing toe water, net na die vakman se vertrek, deur die plafon in badkamer en slaapkamer begin stroom het.
Reg langs Tannie Gina woon oom Herbert van der Merwe (84), wat ‘n tyd gelede sy vrou verloor het. Sedert die einde van Maart het Oom Herbert nog nie ‘n druppel warm water uit ‘n kraan gesien nie. Sy dogter kom haal hom elke dag sodat hy kan bad. Einde Maart het die munisipaliteit kom kyk na sy warmwatertoestel en waarskynlik alle krane toegedraai. Die warmwatertoestel se kragtoevoer is ook afgeskakel. ‘n Week tevore het Oom Herbert met behulp van sy familie ‘n brief geskryf aan die munisipale bestuurder en burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, maar nog nie reaksie ontvang nie.
Die voorsitter van die komitee van Laat Lente en Herfsakker, mnr. Eric Nel, sê dat hulle as bejaardes baie gelukkig en bevoorreg is om van die munisipale behuising gebruik te maak.
“Ons wil glad nie ons voorreg benadeel nie en ons is afhanklik van die munisipaliteit,” het mnr. Nel gesê. Hy is dankbaar vir die reaksie wat hulle kry as hulle probleme het.
“Maar dis reaksie, met geen satisfaksie. Daar is nie effektiwiteit nie. Die munisipale werkers het ‘n gebrek aan gereedskap. Hulle leen baie keer by inwoners. Watter soort vakmanskap is dit?” het Nel gevra.
Dit is ook hinderlik dat die riool van ‘n huis op dieselfde perseel gereeld in die paadjie tussen die bejaardes se huisies afloop. Verder hinder die bediendetoilette by Laat Lente en Herfsakker ook.
“Aan die begin van verlede jaar is ons meegedeel dat die hele stelsel opgegradeer gaan word. Ons kry verstoppings en moet dan privaat persone kry om dit te herstel,” sê Nel.
Nel wonder voorts wat hulle te doen staan in gevalle waar mense skade ly, soos in Tannie Gina se geval.
“Gaan ‘n mens nou prokureur toe en stel ‘n eis in?” Hy noem egter dadelik weer die groot voorreg wat hulle het om goedkoop behuising te hê.
Die gebrek aan onderhoud by die munisipale behuising vir bejaardes was ‘n besprekingspunt op die agenda van ‘n vergadering op 4 Maart vanjaar tussen die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging en die Makhado Munisipaliteit. Op die notule van dié vergadering is onder die kolom “Munisipale aksieplan” gerapporteer dat “verbeteringe gedoen” is.
Die vrae wat Nel en die inwoners hinder, is deur die Zoutpansberger per e-pos aan die Makhado Munisipaliteit gestel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
