ADVERTISEMENT:

 

Larissa Venter (16) van Louis Trichardt sing Volare van Gypsey Kings in die afdeling Wêreldmusiek en wen goud, asook die trofee vir die algehele afdelingswenner tydens die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunstenaars in Los Angeles, Amerika.

Sprankelende Larissa wen goud in Hollywood

 

News  Date: 06 August 2010

 

Sprankelende Larissa Venter (16) van Louis Trichardt kan beskryf word as die streek se "goue meisie", nadat sy goud verower tydens die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles, Amerika.

Larissa het tydens die kampioenskap teen kunstenaars van 22 lande deelgeneem en bring agt medaljes, waaronder drie goues, huis toe, asook ‘n trofee as algehele afdelingswenner.

Baie opgewonde oor die vermaaklikheidswêreld, was Larissa bly dat sy in Suid-Afrika gekwalifiseer het om aan ‘n wye aantal afdelings in sang en modelwerk te gaan deelneem. Die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunstenaars is vanaf 19 tot 23 Julie in Hollywood aangebied.

In die kategorie vir modelwerk, het Larissa goud vir formele drag, goud vir informele drag en brons vir swemdrag verwerf. Tien modelle is gekies om aan die Showcase gala-aand op 23 Julie deel te neem en Larissa was een van hulle.

“En ek was die kortste van hulle almal!” lag Larissa.

Die deelname aan die gala-aand was ‘n besliste hoogtepunt vir Larissa.

“Dit was ‘n belewenis om saam met Michael Maddox te werk. Hy is ‘n wêreldberoemde modelinstrukteur wat die topmodelle in die wêreld, soos Heidi Klum en Tyra Banks, oplei.”

Larissa se optredes in die sangafdelings, waaronder Wêreldmusiek, Broadway, Rock, Jazz en Latyns Amerikaans, was net so ‘n belewenis.

“Dit was hectic, en goed vir die adrenalien, want jy het net 60 sekondes om die beoordelaars te beïndruk. Dan het jy ook gewoonlik net 60 sekondes om klere te verwissel, jou backtrack CD te gryp en in te gee en weer op te stap,” vertel Larissa.

Louis Trichardt se jong superster het hierdie druk en uitdagings uitstekend hanteer en ‘n goue medalje vir wêreldsang verower, asook die trofee as algehele wenner van die afdeling. Sy het in hierdie afdeling Volare van Gypsey Kings gesing. Twee silwer medaljes, vir Latyns Amerikaans en Broadway, en twee brons, vir Rock en Jazz, maak die res van haar groot versameling medaljes uit.

“Dit was lekker om te weet dat Celine Dion in die gehoor was,” sê Larissa.

Larissa het ook ‘n medalje as bedryfstoekenning ontvang vir die feit dat meer as tien agente of talentsoekers aangedui het dat hulle in haar werk belangstel.

“Ek is mal oor die vermaaklikheidswêreld. Dit was so ‘n goeie ondervinding om te ervaar dat daar ‘n groot, groot wêreld daarbuite is,” sê Larissa, wat elke oomblik in die wêreld se vermaaklikheidshoofstad terdeë geniet het. Haar gunsteling was Universal Studios, waar sy op die stel van Desperate Housewives en Jaws was. Hulle was by Hollywood Boulevard, Walk of Fame, Beverley Hills, Hollywood Hills en Rodeo Drive, om net ‘n paar te noem. Sy het daarvan gehou om die Suid-Afrikaanse aktrise, Charlize Theron, se huis te sien.

“En Disneyland was amazing!” sê Larissa.

Die Suid-Afrikaanse span het twee toekennings gekry, een vir die grootste span en een vir die besgeklede span. By die openingseremonie by die Nokia Teater het die Suid-Afrikaners groen en goud gedra en op hul vuvuzelas geblaas. Larissa het dit geniet om baie nuwe vriende te maak.

“Die Fillipyne is dierbaar en ons was vriende, al kan ons mekaar nie eers verstaan nie!” sê Larissa.

Die vliegtyd was baie lank, veral met die terugkom. Hulle het 14 ure gevlieg van Los Angeles tot in Hong Kong, 16 ure op Hong Kong oorgestaan en 11 ure na Suid-Afrika gevlieg. Tydens die lang oorstaan het die Suid-Afrikaners saamgespan en beurte gemaak om bagasie op te pas en te probeer slaap. Terug in Suid-Afrika was die lekkerste vir Larissa om te hoor hoe ‘n swart persoon “eish” sê. Toe is sy regtig tuis.

Maar ook nie vir baie jare nie, want hierdie jong ster se kop staan buiteland toe.

“Ek sal dalk net eers my studies voltooi, want agente soek eerder opgeleide persone. Die vermaaklikheidswêreld is my droom. Ek wil alles doen - sing, modelleer, drama, dans ... mens weet nie watter een sal vir jou die deurbraak gee nie”.

Larissa se ouers, Charl en Marina Venter, staan bankvas agter haar.

“Ons is baie trots op haar dat sy ‘n ambassadeur vir haar dorp, provinsie en land kon wees. Ons voel nederig en dank die Here vir haar talent. Baie dankie ook vir al die liefde, ondersteuning, hulp en bydraes, waarsonder hierdie ondervinding nie vir haar moontilk sou gewees het nie,” sê ma Marina.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines