ADVERTISEMENT:

 

Diefstalle kelder talle en kos boere duisende

 

News  Date: 06 August 2010

 

Werksaamhede by die Schoemansdal Veldskool buite Louis Trichardt is vandeesweek lamgelê weens ‘n hernude vlaag koperdraaddiefstal in die omgewing.

‘n Onderwyser van die skool, mnr. Johan van Dijkhorst, het Dinsdag die situasie by die skool as ´n absolute krisis beskryf.

“Ons het eers Maandag besef daar is fout toe die telefone en Internet af is,” het Johan gesê.

By nadere ondersoek het hulle agtergekom dat sowat 800m van die Telkom telefoonlyn gesteel is. Die vermoede bestaan dat dit moontlik die werk van ´n sindikaat kan wees, nadat talle stukke uitgebrande draad en stukke skrootmetaal in die veld opgetel is.

Plase rondom Schoemansdal loop ook kwaai deur onder die stropers. ‘n Aangrensde plaas se waterpomp is gestroop van alle koperdraad gedurende die lang skoolvakansie. Die skade het sowat R12 000 beloop, afgesien van die feit dat die diere op die plaas sonder water gelos is.

Nog boere naby Grootklip, aan die westekant van die skool, vertel Johan, se balkleppe word male sonder tal gestroop vir koper.

"Dis elke keer ´n beslommernis as jou diere sonder water is."

Intussen moet die skool aansukkel op privaat selfone en koordlose Internet, omdat dit nog ‘n geruime tyd kan duur voordat die draad weer herstel word.

“Dit is absolute chaos hier by die skool. Ons kan geen bevestigings maak of bestellings plaas vir voorrade nie,” sê Johan.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Dinsdag gesê daar kon geen rekord gevind word dat Telkom al ‘n saak geopen het nie. Hy het wel bevestig dat hy bewus is dat daar heelwat soortgelyke sake by die polisie op Louis Trichardt in Julie aangemeld is.

“Dit is egter moeilik om sulke sake te ondersoek,” het hy bygevoeg. “Ons maak staat op Telkom, Eskom en al die plaaslike skrootmetaalhandelaars om verdagte persone aan te meld.”

Een so ‘n plaaslike handelaar, mnr. Lappies Labuschagne van LTT Scrap Metals, het dit beaam.

“Dit is onwettig om Telkom- of Eskomdrade in jou besit te hê, wat nog te sê dit koop. Die handelaars op die dorp waarsku mekaar as daar ‘n verdagte persoon verbykom,” het hy gesê.

Volgens Lappies verkoop koperdrade vir ongeveer R35 ´n kilogram op die swartmark, wat vir ‘n werklose persoon ‘n fortuin is.

“Dit is gewoonlik mense van Gauteng wat met bakkies in die informele nedersettings rondry en die koper koop.”

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines