ADVERTISEMENT:

 

Kragverhoging tref almal swaar

 

News  Date: 13 August 2010

 

Plaaslike kragverbruikers word swaar getref deur die verhoging in elektrisiteitstariewe en niemand, selfs nie eers pensioenarisse, word ontsien nie.

"Die verhoogde tariewe het ‘n reuse impak op ons onderneming wat geweldig baie elektrisiteit verbruik om ons produkte te vervaardig, “ sê mnr. Denis Gilbert van Specialised Oil Extractions op Louis Trichardt. Gilbert sê dat oorsese kliënte met wie hulle al 25 jaar besigheid doen, begin sê dat Suid-Afrika nou te duur word om mee handel te dryf.

“Die verhogings maak dat ons nie meer kan kompeteer met ander lande soos Chilé an Brasilië nie. Dit kan ons uiteindelik uit besigheid haal,” sê Gilbert en voeg by dat die verhogings sekerlik almal seermaaak.

Die landbousektor in die Levubu-omgewing is ook ‘n groot verbruiker van munisipale elektrisiteit. Na verneem word, verbruik die twee transformators daar tussen 7% en 14% van die elektrisiteit van die Makhado Munisipaliteit. Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU,) sê dat boere tussen R5000 en R25 000 se krag ‘n maand verbruik.

“Die groot boere gebruik selfs meer as R25 000. Die deursnee boer ontvang ‘n kragrekening van tussen R8 000 en R12 000 per maand. Kom ons neem die 60 tot 70 kommersiële boere op Levubu, dan kan ons by rowwe benadering sê dat die boere ten minste R750 000 per maand betaal het op die ou tariewe,” sê Hoffman. Met die nuwe tariewe, wat ‘n 22% verhoging verteenwoordig, sal die landbousektor in Levubu minstens ‘n ekstra R165 000 per maand moet opdok.

Me. Jana Smith, sakevrou in die eindomsbedryf op Louis Trichardt, sê dat vier van haar eie rekeninge dramaties opgegaan het.

“Ek het Eskom gebel en hulle het gepraat van ‘n wintertarief wat hulle hef,” sê Smith. Volgens die Makhado Munisipaliteit se tarieflys word daar voorsiening gemaak vir spesiale ooreenkomste in die geval van verbruikers wie se lading en die aard van die lading ’n ander tarief regverdig.

“Mens moet deesdae ‘n genie wees om die munisipale rekeninge uit te sorteer. Ek sal dit moet opvolg,” sê Smith na aanleiding van hierdie en ander onverklaarbare bedrae op haar rekenings.

By bejaardes het die verhoging ‘n besliste impak op hul lewenstandaard, aldus mnr. Eric Nel, voorsitter van die komitee van Laat Lente en Herfsakker.

“Baie van die bejaardes is net afhanklik van ‘n staatspensioen. Dit gaan maar broekskeur,” sê Nel. ‘n Staatspensioen is R1 010 per maand en om ‘n moontlike ekstra R50 vir elektrisiteit te bestee, is ‘n groot hap. Verder veroorsaak verhoogde elektrisiteitstariewe indirek prysstygings, as gevolg van verhoogde produksiekoste. Prysstygings veroorsaak nog ‘n groter hap uit ‘n staatspensioen.

Een pensioenaris wat op haar eie woon, het gesê dat sy nie weet of sy haar begroting sal kan laat klop nie.

“Dit slaan ons hard,” sê me. Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste, na aanleiding van die munisipale rekening. “Ons dra die verhoging en sit nie ons tariewe vir die bejaardes op nie .”

Die huishoudelike tarief per eenheid is met 11.55 sent op, in plaas van die verwagte 12.77c. Daar is dus altyd iets om voor dankbaar te wees. Die huidige tarief is 64.05 sent per eenheid. Die tariewe, insluitend die basiese tariewe, het vanaf 2007/8 na 2008/9 met 32.5 % gestyg en die volgende boekjaar met 25%. Hierdie jaar se styging van 22 %, word opgevolg met nog twee aanbevole prysstygings van 24.8% die volgende twee jaar.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines