ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Bertie le Roux.

Een van Soutpansberg se ´Groot Seuns´ sterf

 

News  Date: 13 August 2010

 

Inwoners het verlede Vrydag ‘n laaste eer betoon aan een van die Soutpansberg se groot pioniersfigure, oom Bertie le Roux, tydens ‘n roudiens vir hom uit die NG Kerk Levubu.

Oom Bertie is op 1 Augustus in die ouderdom van 79 jaar oorlede.

“Pa Bertie (of Oom Bertie soos die meeste hom geken het) was sonder twyfel een van die Groot Seuns van Soutpansberg. Sy voorbeeld is verseker nie maklik om na te volg nie,” skryf die familie.

Oom Bertie is op 14 Junie 1931 op Mollevel gebore. Sedert sy inskrywing in 1941 by die Levubu Laerskool, was hy deel van die gemeenskap waarvoor hy so lief was.

“Fondament, steunpilaar en katalis is maar ‘n paar gepaste beskrywings wat hom sal pas. Sy liefde vir die natuur en veral inheemse bome, is slegs oortref deur sy liefde vir sy mense en sy gemeenskap, veral kinders. Van sy dae by Departement Lande was hy deel van sportklubs, kultuurorganisasies, kerke, skole (laer- en hoërskool beheerliggame), boereverenigings, die kommando en koöperasie om ‘n paar te noem,” sê die familie.

Vroeër jare sou jy Oom Bertie elke Saterdagaand by die boeresaal vind waar hy, na die middag se tennis, die projektor in orde gekry het om die week se film te vertoon. Hy het graag gehengel, rugby gespeel en was ‘n kranige tennisspeler. Hy het gespeel tot sy gesondheid dit nie meer toegelaat het op 71 nie. Hy het ook graag brug en skaak gespeel.

“Ons onthou nog hoe Johan Viljoen met sy trekker saans hierheen gery het in die 60’s om teen hom te kom speel! Die laaste 15 jaar het hy by gebrek aan speelmaats, daagliks op sy elektroniese skaakbord gesit en speel om sy verstand helder te hou”.

Orals is Oom Bertie se onkreukbare karakter, sin vir eerlikheid, geloof, humor, opregtheid en regverdigheid gekombineer met sy kwinkslae en vermoë om ingewikkelde situasies op te som, waardeer.

“Hy het ‘n positiewe, diepe insig gehad in sake wat verstommend wye velde gedek het en kon dikwels die logiese uitkoms voorsien lank voor ander partye. Hierdie eienskappe, asook sy vermoë om mense in ag te neem, het hom dikwels die leier van keuse gemaak in sulke omstandighede. Nooit was winsbejag sy motief by enige betrokkenheid by ander nie en as hyself nie tyd kon gee nie, het hy mildelik bygedra om te help met sake wat hom na aan die hart gelê het”.

As Oom Bertie in konflik was met andersdenkendes, was dit feitlik sonder uitsondering oor die nagevolge wat dit op die gemeenskap van Levubu sou hê.

“Hy het vele sêgoed gehad, wat mens gou laat agterkom het hy het al veel meer oor diep sake gedink as waarvoor hy moes krediet kry. Sy lewende monument is vergestalt in makadamia aanplantings landwyd en twee boomtuine by Levubu NG Kerk en Louis Trichardt se park”.

Die familie sê hulle is dankbaar dat Oom Bertie so lank vir sy kinders en kleinkinders gespaar is.

“Daar is letterlik derduisende kilo’s afgelê na studiegroepe, direksievergaderings, skoolsake, boeredae, reddingsoperasies van aalwyne, besoeke aan vriende en sommer net mense wat die behoefte gehad het aan nabyheid van iemand wat werklik omgee. Buitelandse studiereise na Kalifornië, Hawaii en Australië is op eie koste onderneem en het gebeur lank voor die formele groepe gestig is. Kennis en kundigheid wat so ingewin is, is vrylik gedeel om bedrywe te help vestig en ontwikkel”.

Daar is diepe dankbaarheid by sy familie dat hy sag kon heengaan, sonder wroeging en lyding.

“Vir almal wat ondersteun het met woord en daad, wil ons graag dankie sê. Veral ook aan dr. Casper Venter - dankie vir die goeie verstandhouding en omgee. Die ondersteuning word in hierdie tyd deur die familie baie hoog op prys gestel en ons ervaar nou hoeveel hy werklik beteken het vir die hele Levubu en omgewing. Baie dankie vir die talle oproepe, boodskappe, e-posse en besoeke om medelye te betoon. Ons waardeer dit alles opreg.

“Hy en Ma Ansie was ‘n 55-jaar lange kombinasie wat moeilik geëwenaar sal word en twee rolmodelle soos ons maar net van kan droom. Hulle kinders se eggenotes is aanvaar as eie kinders. Baie dankie vir die steun aan Ma Ansie - sy is voorwaar die vrou agter hierdie suksesvolle man. Ons kan God net dank vir die voorreg om hulle kinders en kleinkinders te wees!” (Van: Pierre, Joy, Bertie en Jean le Roux, Stephen, Lana, Le Roux en Francois Hoffman en Albert le Roux)

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines