ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Ben Holtzkampf (89).

Oom Ben lê tuig finaal neer

 

News  Date: 13 August 2010

 

Na ‘n vol lewe met ‘n ryke geskiedenis agter die rug, het oom Ben Holtzkampf (89) op 9 Augustus afgesterwe. Hy het ´n prominente rol gespeel in die ontwikkeling van Louis Trichardt en Tshikota.

As baba het Oom Ben vier dae na sy geboorte op 8 Julie 1921, saam met pa Archie, ma Elizabeth en vyf broers op Louis Trichardt stasie aangekom. Pa Archie is vanaf George in die Kaap verplaas na Louis Trichardt as hoof-bosbouer. Hulle het per ossewa vanaf die stasie getrek na die huis op Hanglip waar Camp-Africa vandag is. Hier het Ben geleer van die veld, die omgewing en die Vhavenda.

Oom Ben se seun, Cobus, vertel sy pa se lewensverhaal met kenmerkende geskiedkundige noukeurigheid.

“Na skool sluit my pa by die weermag aan en op sewentienjarige ouderdom was hy ´n soldaat in Noord-Afrika en Italië, tydens die Tweede Wêreldoorlog. Ná sy terugkeer tree hy in die huwelik met Frieda Etsebeth. Uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore.

“Sedert 1945 was hy in diens van die munisipaliteit as lokasie-superintendent en was verantwoordelik vir die opmeet van die Tshikota woonbuurt in 1959. In die sewentigerjare word die nie-blanke afdeling van munisipaliteite ingelyf by die voormalige Administrasierade waar hy aangestel was as distriksbestuurder tot en met sy aftrede in 1979.”

Frieda, haar ma se naamgenoot, het kosbare herinneringe.

My pa het my kleintyd geleer van trosselkies optel in die veld, stamvrugte, maroelas, kremetart, mispels en noem-noems eet en wilde kastaiings, van vuurmaak en niertjies in vetderm gaarmaak. My pa het ons leer kleilat gooi, kennetjie speel, bobbejaantou ry en teen die hange van Hangklip tussen die dennebome op karton laat afgly,” sê Frieda.

Oom Ben was bekend daarvoor dat hy enigiets kon doen, huisbou, mooi tuinmaak, houtwerk, koskook en selfs brei. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

“Pa het van ‘n trompie tot ‘n trekklavier gespeel en selfs strelende klanke uit ‘n saag opgetower. Ja, niemand kon die riel soos Pa dans nie!” sê Frieda.

Die familie was dankbaar dat oupa Ben so mooi na ouma gekyk het tydens haar lang siekbed en haar altyd verras het met ‘n roos uit die tuin.

Oom Ben sal ook onthou word as ‘n fikse sportman wat tot op 42-jarige ouderdom vir die dorp rugby gespeel het. Hy was president van die rugbyklub op Louis Trichardt. In die vyftigerjare het hy ´n boksklub op die dorp gehad. Ben en sy eggenote het ook goed tennis gespeel.

Die afgelope paar maande was oom Ben ‘n inwoner van Ons Tuiste. Nadat hy verneem het van die tragiese dood van sy kleinkind, Lindie, en agterkleinkind, Courtney Goodacre, het sy gesondheid vinnig agteruit gegaan. Oom Ben het Maandag in die tehuis gesterf.

Oom Ben laat sy twee kinders, Cobus en Frieda, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders na. Hy word begrawe vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente. Die gedenkdiens word op Donderdag (12de) om 10:00 deur ds. Jan Pretorius waargeneem.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines