ADVERTISEMENT:

 

‘n Lugfoto van die gebied waar die Vele steenkoolmyn se aktiwiteite plaasgevind het, met die omringende bosveldarea en landbougrond. Foto verskaf deur Nick Hiltermann.

Mynreus hou vol hul aktiwiteite is wettig

 

News  Date: 20 August 2010

 

Na die ingryping van die Groen Skerpioene om aktiwiteite by die Vele-steenkoolmyn naby die Mapungubwe Wêrelderfenisgebied te staak, hou die myngroep Coal of Africa (CoAL) vol dat al hulle aktiwiteite wettig is.

“Die maatskappy staan daarby dat alle aktiwiteite binne die Nuwe Orde Mynreg val. Die mynreg is op 19 Maart 2010 aan CoAL toegeken deur die Department van Mineraalbronne. Nietemin gee die maatskappy gehoor aan die kennisgewing (van die Department van Omgewingsake) en bevestig dat sekere aktiwiteite by Vele gestaak is,” het mnr. John Wallington, CoAL se hoof uitvoerende beampte, op 11 Augustus gesê.

Hierdie week het CoAL daarop klem gelê dat aktiwiteite net tydelik gestop is.

“Die kontrakwerkers het tydelik alle konstruksiewerk by Vele gestaak, terwyl CoAL besig is met dringende besprekings met die Departement Omgewingsake (DEA). CoAL en DEA werk steeds saam en die maatskappy bly vol vertoue dat ‘n ooreenkoms wat beide partye tevrede stel, bereik sal word,” het me. Taryn Wulfsohn, direkteur van Brunswick, Dinsdag gesê. Brunswick is die kommunikasie konsultante wat deur CoAL gebruik word.

Vele sou teen die einde van die jaar begin het om kookssteenkool te produseer. Kooksteenkool is baie meer werd as die gewone termiese steenkool wat by die meeste steenkoolmyne in Suid-Afrika gelewer word. Die plan was om in die eerste fase 1miljoen ton kooksteenkool te lewer en in die tweede fase 5 miljoen ton per jaar. Daar is genoeg steenkool vir ‘n mynleeftyd van ongeveer 30 jaar.

Die aktiwiteite wat die Department Omgewingsake aangespreek het, is die bou van toegangspaaie, die myn afvalhoop, die brandstofdepot en waterpypleidings.

Die groot probleem met die Vele-myn is dat dit naby Mapungubwe geleë is. Dit is naby die beoogde internasionale oorgrens wildtuin en val ook binne ‘n sensitiewe gebied wat verlede jaar as ‘n internasionale biosfeer verklaar is.

Omgewingsgroepe het hewig kapsie gemaak nog voor die aanvang van die konstruksiefase van die myn. Hulle het egter gemeen dat hulle besware op dowe ore val. In dieselfde week as die optrede van die Groen Skerpioene, het die Mapungubwe Aksiegroep (MAG) ook ‘n interdik teen CoAL verkry.

“Ons is baie dankbaar dat die Department Omgewingsake kennis gegee het dat baie van die mynaktiwiteite moet stop. Ons interdik is egter daarop gemik om die hele mynontwikkeling te stop. Ons wil hê die hof moet die ware omgewingsimpak aanhoor,” het mnr. Nick Hiltermann, voorsitter van MAG, vandeesweek gesê. MAG verteenwoordig verskeie omgewingsorganisasies. Die aansoekers in die interdik is MAG, die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), die Vredesparkstigting, die professionele argeologie-vereniging, Voëllewe Suid-Afrika en die Wêreldfonds vir Natuur Suid-Afrika, om ‘n paar van die organisasies te noem.

MAG het hulle ook tot me. Susan Shabangu, minister van mineraalbronne, gewend. Hulle sê dat die persoon wat die besluit geneem het om die mynreg toe te ken, nie genoeg inligting tot sy of haar beskikking gehad het nie. Hulle beweer ook dat daardie persoon nie die gedelegeerde outoriteit gehad het om die besluit te neem nie.

Intussen is die Demokratiese Alliansie verheug daaroor dat die Departement Omgewingsake teen die besluit van die Department Mineraalbronne opgetree het. “Dit gebeur nie dikwels dat twee departmente die moed het om van mekaar te verskil nie. Ons vind dit prysenswaardig dat Omgewingsake ingegryp het en die mynaktiwiteite in ‘n sensitiewe gebied vir die huidige gestop het. Dit wys dat hulle onafhanklik kan optree. Die Departement Watersake het natuurlik ook nog nie die myn se waterlisensie toegestaan nie,” het mnr. Gareth Morgan, DA skaduminister van omgewingsake, hierdie week gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines