ADVERTISEMENT:

 

Roofverdagte probeer selfmoord pleeg

 

News  Date: 20 August 2010

 

Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in Mei verlede jaar die 24-uur kiosk by Bridge Motors op Louis Trichardt beroof het, ontken enige betrokkenheid by die roof. Intussen het een van die aangeklaagdes in die saak verlede Woensdagaand probeer selfmoord pleeg.

Die twee mans, Steven Shorty Chauke (27) en Brighton David Moley Chauke (23), albei van Zimbabwe, se verhoor het verlede Dinsdag en Woensdag ‘n aanvang geneem in die Streekhof op Louis Trichardt. Albei het onskuldig gepleit.

Shorty en Brighton het vir die eerste keer op 7 Mei 2009 in die hof verskyn, maar die saak is verskeie kere uitgestel vir verdere ondersoek. Die twee het verlede week op drie klagte van roof met verswarende omstandighede verskyn, nadat hulle ook verbind is met soortgelyke rooftogte by twee ander kiosks op Louis Trichardt. Shorty en Brighton het na bewering op 22 April 2009 die kiosk by Palm Motors ook beroof en net drie dae later, op 25 April, toegeslaan by die kiosk by die Caltex-vulstasie langs die N1.

Die hele roof by Bridge Motors is op ‘n sekuriteitskamera vasgelê. In die video kan daar duidelik gesien word hoe twee ongemaskerde mans die winkel binnekom, een ‘n pistool uitpluk en op die kassier rig en hoe hulle daarna met ‘n groot bedrag kontant en sigarette wegkom.

Tydens die twee se arrestasie, kort ná die derde roof, is ‘n groot hoeveelheid kontant, asook ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie, in hul besit gevind. Dit het verlede week tydens die verhoor aan die lig gekom dat hierdie vuurwapen ook nou balisties verbind word met ‘n moord op Musina.

Teen Woensdag moes hul verhoor egter uitgestel word, omdat Shorty die volgende dag op Musina moes verskyn op ´n moordklag. In ‘n dramatiese wending moes die saak teen hom egter onbepaald uitgestel word, nadat hy Woensdagaand probeer het om sy eie lewe te neem. Hy het volgens inligting ‘n oordosis tablette gesluk, nadat hy vermoedelik van sy selmaats se medikasie geneem het. Shorty het behandeling ontvang en sal weer saam met Brighton op 24 Augustus in die hof op Louis Trichardt verskyn vir verdere verhoor.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines