

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 August 2010
Nuwe grondeise in Levubu het as ‘n verrassing vir boere gekom. Die eis kom van die Dombo-gemeenskap, wat totaal onbekend is in die omgewing.
“Ons is glad nie bewus van die bestaan van die Dombos nie. Ons vermoed dat dit ‘n groep is wat nou ontstaan het vanuit ‘n skeuring in ‘n ander gemeenskap,” het mnr. Frits Ahrens, voorsitter van die Albasini Besorgde Eienaars, Dinsdag gesê.
Die geldigheid van vorige eise op grond in Levubu is nog nie bewys nie.
“Nou duik die Dombo-groep op met ‘n nuwe eis op dieselfde grond,” sê Ahrens.
Verskeie plaaseienaars in Levubu en ook Alldays het briewe van die streek se grondeisekommissaris, mnr. Tele Maphoto, ontvang om hulle in kennis te stel dat die Dombo-gemeenskap hulle grond eis. Hulle is verwittig dat ‘n ondersoekkommissie hulle plase sal kom besoek.
“Die doel van die inspeksie is om ‘n grondeis deur die bogenoemde stam (Dombo) te ondersoek. Die ondersoek sal die kommissie bystaan om die grondeis te aanvaar of nie te aanvaar nie,” lui die kennisgewing aan plaaseienaars. Mapotho noem ook dat die stam maksimum tien lede sal stuur en hy stel voor dat die besoeke op 30 en 31 Augustus plaasvind.
Die skielike Dombo-grondeis het baie vrae laat ontstaan. Is hierdie eis voor 31 Desember 1998 geregistreer? In watter Staatskoerant is hierdie eis gepromulgeer? Wie is die Dombo-gemeenskap ? Wat is die presiese gebied wat geëis word? Wat behels die aanspraak dat die gemeenskap wel op die grond woonagtig was? Wanneer en waarheen is die gemeenskap verwyder?
Al hierdie vrae en nog meer het die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU) aan die kommissaris gestel in ‘n brief gedateer 12 Augustus.
Sekere voorwaardes vir die besoek is ook in die brief uiteengesit.
“Dit word op rekord geplaas dat geen besoek toegelaat sal word, voordat die inligting nie volledig aan die kantoor verskaf is nie,” lui die brief. Die unie wil ook weet wat die presiese inligting is waarna op die bepaalde eiendom gesoek word tydens die ondersoek.
Nog ‘n voorwaarde is dat die riglyne wat in die Plaasbesoekprotokol vervat is, vir alle besoeke geld. Daarvolgens word drie persone van die gemeenskap en een persoon van die grondeise kantoor toegelaat, nadat afskrifte van identiteitsdokumente ontvang is.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van SDLU, sê dat die unie toegang wil hê tot die Dombo-gemeenskap se oorspronklike registrasievorm of eisvorm “sodat ‘n inktoets, indien nodig, gedoen kan word om die ouderdom van die dokument te bepaal.”
Die streek grondeisekommissaris het reeds die SDLU verwitting dat hulle die brief ontvang het en dat die saak hulle aandag geniet.
Die SDLU sê dat sy lede die hofuitspraak in die saak Baphiring Gemeenskap vs Uys en ander van 19 Januarie 2010 in ag kan neem, waarin dit duidelik is dat gemeenskappe nie sonder meer eise kan instel soos hulle wil nie.
Mnr. Hoffman het gesê dat die riglyne duidelik is en dat grondeienaars hulle nie moet laat intimideer nie. Grondeienaars is deur die SDLU versoek om geen dokumente te onderteken nie en om niemand op hul eiendom toe te laat nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
