

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2010
Die skielike dood van die dertien-maande-oue Sharisma Blignaut het skokgolwe deur die Soutpansberg-gemeenskap gestuur. ‘n Rare vorm van Meningoccocemia het haar jong lewe geëis.
Binne ‘n paar ure het die vrolike laggie van dié blou-oog dogtertjie met die koperglans in haar blonde haartjies, stil geword. Die rooi in haar haartjies kom van pa Tjaart, bekende rugbyspeler van Louis Trichardt, en die blond van ma Natasha.
Die Sondagmiddag (15de) het klein Sharisma nog opgeruimd in die parkie gespeel.
“Dis ‘n kind wat in almal se harte ingekruip het. Sy het die oulikste dinge gedoen,” sê ma Natasha (26).
Die aand teen nege uur het Sharisma begin koorsig raak. Sy was juis besig om tandjies te sny. ‘n Setpilletjie het sy werk gedoen en sy het rustig tussen pappa en mamma in die bed geslaap, ‘n voorreg omdat sy nie lekker voel nie.
Maandagoggend (16de) het Tjaart (31), wat by die Pretoriusboerdery 10km buite Louis Trichardt werk, so vyfuur opgestaan en alles was nog rustig. Net voor sy vertrek, so tien voor ses, het hy oor Sharisma gebuk en gesien dat sy vol rooi kolletjies is. Duitse masels, was hulle eerste gedagte en Tjaart het gesê dat hy die dokter agtuur sal bel vir ‘n afspraak. Sharisma het net voor sewe gehuil en ma Natasha het opgestaan om vir haar ‘n bottel te gaan maak. Met haar terugkoms in die kamer kon Sharisma nie haar bottel neem nie. Sy het nie meer asem gehaal nie en sy was koud.
“Sy het rooi kolle en sy is koud,” beaam kleinboet Tjaart (3) grootoog en ernstig. Die gesin bly tydelik by familie en sien nog nie kans om terug te keer na die woonstel waar die tragedie plaasgevind het nie.
“Natasha het my gebel en ek het dadelik terug gejaag. Sy het gehuil en gesê ons kind is dood. Maar jy wil dit nie weet nie. Ek gryp my kind en ons jaag na die noodkamer van die privaathospitaal. Die suster luister na die hartjie met haar stetoskoop en staan terug. Die dokter het gekom en haar dood verklaar,” vertel pa Tjaart hartseer.
Later in die week het hulle met dr. Anton Stroebel, ´n plaaslike geneesheer, gaan gesels om die baie vrae in hulle gemoed op te klaar. Dr. Stroebel het hulle verseker dat hulle optrede met die koors setpil presies was wat hy sou gedoen het as hulle haar Sondagaand na hom sou gebring het. Hulle het besef dat hul baba waarskynlik met ‘n draer van die bakterie in aanraking was by ‘n funksie in Polokwane. Dit was waarskynlik die bakterie Neisseria meningitidis (ook genoem meningococcus). Hierdie bakterie veroorsaak Meningitis (breinvliesontsteking) en Meningococcemia.
“Die Blignaut babatjie het vermoedelik ‘n spesifike sindroom van Meningococcemia Sepsis gehad, genoem die Waterhouse Frederickson sindroom. Die bakterie tas nie net die brein aan nie, dit tas elke orgaan aan. Dit beland in die bloedstroom en gebruik die stollingsfaktore van die bloed op. Dit veroorsaak bloeding van die byniere. Die bloeddruk val en die dood tree binne 24 tot 48 uur in,” het dr. Stroebel aan die Zoutpansberger gesê. Die rooi kolletjies wat op Sharisma was, was dus reeds die binne-aarse bloeding.
Dr. Stroebel sê dat die siekte eintlik onder kinders bo 14 jaar en jong volwassenes voorkom, soos in die leër of waar studente in ‘n groep saamwoon. Daar moet langdurige direkte kontak plaasvind voordat die siekte oorgedra word. Dit kan deur speeksel oorgedra word, soos byvoorbeeld wanneer studente lipsalf deel. Dit is baie minder aansteeklik as die gewone verkoue. Jy kan slegs aansteek as jy in langdurige direkte fisiese kontak met die siek persoon was en jy kan nie by ‘n derde party aansteek nie.
“Almal wat met die babatjie in aanraking was, het reeds anti-biotika ontvang,” is die gerusstellende woorde van dr. Stroebel. Hy het gesê dat dit ‘n seldsame, enkele sporadiese geval was en dat daar geen rede tot paniek is nie. Dr. Stroebel sê dat hy bewus is van een ander volwassene in die dorp wat vir Menigoccocaemia getoets is, maar dat die uitslag negatief was.
Sharisma, gebore 14 Mei 2009, is op 20 Augustus begrawe vanuit die Volle Evangeliekerk. Die roudiens is deur pastoor Stefan Pieterse waargeneem.
“Ons gaan haar liefdevolle drukkies die meeste mis,” sê die hartseer ouers. Tjaart en Natasha Blignaut sê dat hulle nooit deur hierdie krisis sou gekom het sonder die onderskraging van hul familie en vriende nie. Hulle bedank graag almal wat hul bygestaan, SMS’e gestuur het en vir hulle gebid het. In die besonder bedank hulle die Pretorius-gesin, die Otto-gesin, die Engelbrecht-gesin, Ronel Austin en gesin, past. Stefan Pieterse, die Louis Trichardt rugbyspelers, drs. Stroebel en Venter, AVBOB en Rabali Funeral Services.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
