

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2010
Sakelui op Louis Trichardt is teleurgesteld en woedend oor die wyse waarop die Makhado Munisipaliteit hul belange verontagsaam het tydens die reëlings vir verlede Saterdag se militêre parade op die dorp. Die munisipaliteit se optrede is as skandalig beskryf.
Hulle sê hulle is tot 50% van hul normale Saterdag-omset kwyt, weens die sluiting van Songozwistraat vir die volle duur van die seremonie, toe LMB Makhado sy “Vryheid van die dorp” met ‘n aanskoulike parade uitgeoefen het. Hulle sê die munisipale bestuurder het hulle voor die tyd die versekering gegee dat daar met die verkeersreëlings geen ontwrigting vir sakeondernemings sal wees nie. Dié belofte is nie gestand gedoen nie.
In ‘n versoekskrif met 45 handtekeninge van verteenwoordigers van geaffekteerde sakeondernemings, is die munisipaliteit voor die tyd meegedeel dat alle sakeondernemings tot stilstand kom wanneer Songozwistraat sluit. Saterdae lewer by al die ondernemings die heel grootste sake-omset. Alternatiewe maatreëls, wat ook met die bevelvoerder van die lugmagbasis uitgeklaar is, is voorgestel om ontwrigting van sake tot die minimum te beperk. Dié maatreëls het onder meer ingesluit dat die kruisings in Songozwistraat bloot gesluit word met die aantog van die parade en onmiddellik weer oopgestel word nadat die parade verby die kruising beweeg het. As alternatief is voorgestel dat die korter sentrale Kroghstraat-roete (tussen Erasmus- en Devenishstraat) soos vorige jare vir die parade benut word. Die lugmagbasis se bevelvoerder, Genl. Chris Delport, het ook voor die tyd te kenne gegee dat hy geen negatiewe konnotasie aan die parade wil hê, deurdat dit sakeondernemings benadeel nie.
‘n Prominente sakeman, mnr. Daan Enslin van Spar, sê hy was ná die indiening van die versoekskrif telefonies in verbinding met die munisipale bestuurder, wat hom verseker het daar sal geen ontwrigting van normale sakebedrywighede wees nie. Presies die teenoorgestelde het toe Saterdag gebeur.
Van die geaffekteerde sakemanne wat gevra is hoe die reëlings hulle getref het, het gesê die lugmagbasis is ‘n waardevolle en gewaardeerde kliënt en hulle wil nie hê die munisipaliteit se onbedagsame reëlings moet sakebetrekkinge vertroebel nie.
Agt meubelwinkels in Songozwistraat kon vir bykans die helfte van die normale Saterdag sake-ure geen sake doen nie, omdat hul afleweringsvoertuie nie van hul persele af kon uitbeweeg nie. ‘n Hardeware onderneming se woordvoerder sê hy het die dag baie besigheid verloor. Sy kliënte wat deur die bank Saterdagoggende hul massa-aankope doen, was verplig om hul boumateriaal by sy opposisie te gaan aankoop, omdat selfs die systraat voor sy onderneming vir drie kruisings ver afgesper was. ‘n Handelaar in bederfbare produkte sê sy omset het die dag met nagenoeg 42% gedaal teenoor die vorige Saterdag. Hy het 52 personeellede aan diens en sê die knou van ‘n verminderde omset het wesentlik nie sy bedryfskoste van die dag geregverdig nie.
“Dit het ons eintlik nie betaal om oop te maak nie. Ons betaal reuse bedrae aan belasting en dienste vir die munisipaliteit en dan ontneem hulle ons die vermoë om ‘n inkomste te genereer. Ons is glad nie geken in die reëlings nie. Ek is baie teleurgesteld,” het hy gesê.
Enslin sê Saterdae is die beste sakedag in die week. Vrydag is die tweede beste. ‘n Saterdag se omset oortref dié van Vrydag met gemiddeld 22%, volgens sy onderneming se statistiek van die afgelope sewe jaar. Die vorige week (13 en 14 Augustus) het Saterdag se verkope dié van Vrydag met presies 20,49% oorskry. Op Saterdag 21 Augustus was die verkope in vergelyking met Vrydag, 21,44% minder - ‘n totale afswaai van 41,93% op Saterdag se verkope!
“Wat ons nie kan verstaan nie, is dat die munisipaliteit van ons verwag om ons belasting en dienste te betaal, maar ons dan die moontlikheid ontneem om dit te kan doen ... Ons is in die middel van ‘n resessie – ‘n feit wat sommige mense klaarblyklik nog nie besef nie,” het Enslin gesê.
Die waarnemende bevelvoerder van LMB Makhado, kol. D.J. Blom, het by navraag gesê vryheid van die dorp-parades is ‘n algemene tradisie waar die dorp die vryheid aan ‘n bepalde militêre eenheid toegeken het. ‘n Parade is dan veronderstel om elke tweede jaar in die dorp gehou te word.
“In ons geval was dit veronderstel om in 2009 plaas te vind, maar aangesien die lugmag vanjaar 90 jaar oud is (terloops, ons is die tweede oudste lugmag in die wêreld) is besluit dat die parade sal oorstaan tot hierdie jaar. Gedurende die beplanning van die parade is die beplande roete vir die parade aan die munisipaliteit se beplanningskomitee voorgelê, waar dit goedgekeur is. LMB Makhado het egter geen voorskrifte gegee ten opsigte van die bepaalde periodes waartydens sekere strate gesluit moes wees nie, aangesien die munisipaliteit daardie aspek hanteer het. Ons is wel ingelig dat die betrokke besighede in kennis gestel is van die parade wat sou plaasvind, maar is nie bewus van enige besware wat geopper is nie. Die basis sien uit na ‘n voortgesette positiewe verhouding met die publiek van Louis Trichardt, soos in die verlede die geval was.”
Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het in reaksie gesê al die geaffekteerde sakeondernemings is vooraf in kennis gestel van die parade. Hy wou geen kommentaar lewer oor die samesprekings en briefwisselling tussen mnr. Enslin en die munisipale bestuurder nie, omdat hy geen insae daarin gehad het nie. Hy het egter beklemtoon dat die munisipaliteit in die toekoms die sakegemeenskap beslis sal betrek by enige gebeurtenis waarin die sluiting van strate beoog word.
“Hulle behoort deel te hê aan die besluite wat ons neem. Ons het ‘n hoë agting vir ons sakelui,” het Bobodi gesê. Hy het verskoning aangeteken vir enige ongerief wat die parade vir die sakegemeenskap en die inwoners veroorsaak het.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
