ADVERTISEMENT:

 

Moordenaar kry 15 jaar ná bekentenis

 

News  Date: 27 August 2010

 

Die 31-jarige Thabo Phasha Mokgwatswane se skuldbekentenis in die Streekhof op Louis Trichardt verlede Woensdag het ‘n plaasmoord tot die been toe oopgevlek.

Mokgwatswane het op een klag van roof met verswarende omstandighede en een klag van moord verskyn.

Hy is in Februarie naby Polokwane in hegtenis geneem, nadat hy en drie medepligtiges in Desember verlede jaar die 56-jarige mnr. Pieter Henry Snyman van die plaas Balmoral naby Vivo wreed vermoor het.

Mnr. Snyman se vrou en een dogter is in hul plaashuis oorval, vasgebind en in die badkamer toegesluit, waarna die aanvallers mnr. Snyman oorval het. Mnr. Snyman is genadeloos met ‘n mes in die bors en gesig gesteek, nadat hy ‘n geveg opgesit het teen sy aanvallers.

Luidens die Staat se getuienis het twee van die vier mans Snyman na die badkamer gesleep en by sy vrou en kind gelos om dood te bloei. Daarna het die vier mans die egpaar se oudste dogter ook oorval en in die badkamer toegesluit. Snyman se vrou en dogter kon daarin slaag om los te kom, maar teen die tyd wat hulle by Snyman gekom het, was hy reeds dood.

Hierna het die mans ‘n plaasvoertuig vol gesteelde goedere gelaai, voordat hulle op vlug geslaan het. Die bakkie is later naby Seshego buite Polokwane verlate gevind.

Mokgwatswane het eers sy aandeel in die hele roof en moord ten sterkste ontken en gesê dat hy nog nooit vantevore op die plaas was nie. Nadat die Staat hom gekonfronteer het met sy palmafdruk wat in die Snymans se stort gevind is, het hy egter gebieg oor sy aandeel ter versagting van sy vonnis. Dit nadat die Staat te kenne gegee het dat hulle gereed is vir vonnis en dat hy reeds gepleit het.

Mokgwatswane het ‘n volledige beskrywing van daardie swart dag se gebeure gegee en sy drie medepligtiges se name opgegee. Een van die verdagtes is in Pretoria gearresteer op ‘n klag van roof, terwyl nog een in Polokwane gearresteer is op ‘n klag van verkragting. Die derde verdagte was teen druktyd nog op vrye voet.

Die twee aanklagte teen Mokgwatswane is saamgevat vir vonnisdoeleindes en hy is tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Verlof tot appél is nie toegestaan nie. Mokgwatswane se ander twee medepligtiges sal binnekort in die hof verskyn, sodra hulle saak na die Streekhof hier oorgeplaas word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines