

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2010
Tot dusver het die dorp die staking van openbare dienswerkers redelik goed hanteer.
“Laat ons hoop dit bly so,” het me. Irene Adendorff, adjunkhoof van Laerskool Louis Trichardt, Maandag gesê. Alles was rustig en onderrig het normaalweg voortgegaan.
“Ons is in kontak met die polisie, die buurtwag en ons veiligheidsmaatskappy. Die SAPD doen gereelde besoeke aan ons skool. Ouers hoef nie bekommerd te wees nie,” het me. Adendorff gesê.
Ouers van Graad 12-leerders is egter bekommerd en die onsekerheid skep ekstra spanning by die matrieks. Hulle is veronderstel om Maandag met rekordeksamen te begin en niemand kan hulle nog die versekering gee dat hulle wel gaan begin en of die eksamen gaan aanskuif tot in die vakansie nie.
“Dit stres my vreeslik. Ek weet nie presies hoe om te beplan nie. Ek weet nie hoe lank ons ná die rekordeksamen gaan oophê en of daar in volgende kwartaal genoeg tyd gaan wees voor die eindeksamen nie,” sê Liezl van Wyk, Graad 12- leerder van Hoërskool Louis Trichardt.
Lezahn Volgraaff stem saam.
"Ons weet nie wat aangaan nie. Ons kan nie lekker werk in die klasse nie, maar die onnies gee gelukkig vir ons ekstra werk om by die huis te doen,” sê Lezahn.
“Die kinders hou nie van hierdie onsekerheid nie. Een van die matrieks het die gerug gehoor dat die stakers sal aangaan totdat hulle hul sin kry, al moet die matrieks volgende jaar skryf. Hierdie staking maak ons as ouers baie kwaad. Ons as ouers moet opstaan; dit is ons kinders wat daaronder ly. Om eksamens aan te skuif, is absoluut onsinnig, ” sê matriekouer me. Ena Viviers.
Nog ‘n matriekleerling, Leandi van Rooyen, voel dat die uitwerking van die staking buite die beheer van die matrieks is. “Ons kan tog nou niks daaraan doen nie. Ons moet maar net probeer om die beste van die saak te maak,” sê Leandi.
Triegies se voormalige onderhoofseun vir akademie, Hÿlke Coetzee, sê dat hy gereedmaak om Maandag te skryf, hoewel hulle nie seker is wanneer hulle gaan skryf nie. Hy sê dat die huidige situasie lei tot meer selfstudie, wat nie altyd vir alle kinders ewe maklik kom nie. Hy self trek maar op sy eie die handboeke nader en gebruik die Internet. “Die belangrikste nou is om klaar te maak met die sillabusse. In die vakke waar ons klaar is, is dit vraestelle deurwerk en hersiening,” sê Hÿlke.
Die skoolhoof, mnr. Henry Denner, sê dat hy sy matrieks aangespoor het om voor te berei asof die eksamen Maandag begin. "Hierdie staking moet so gou moontlik klaarkry en opgelos word. Ek verstaan die redes agter die staking, maar die impak is by die matrieks. Met die res van die kinders kan die werk nog ingehaal word,” sê mnr. Denner.
Die moontlike uitstel van die rekordeksamen skep logistieke probleme, sê mnr. Denner. Toesighouers tydens ‘n moontlike eksamen in die skoolvakansie sal probleme skep, omdat baie onderwysers reeds ander reëlings vasgemaak het vir daardie tydperk.
Beide Hoërskool en Laerskool Louis Trichardt sê dat hulle vakbond, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), lede afvaardig om aan Donderdag se optog in Polokwane deel te neem. SAOU eis steeds ‘n verhoging van 8.6% en ‘n behuisingstoelaag van R1 000 per maand. Die reregering het 7% verhoging aangebied en R700 per maand vir behuising. Verder eis SAOU ‘n gelyke subsidie vir alle mediese fondse, asook die implementeringsdatum van 1 April, sodat daar onderhandel kan word voor die finalisering van die regering se begroting.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
