

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2010
Verskeie hospitale en skole landwyd word ontwrig deur die staking van openbare dienswerkers wat op Woensdag, 18 Augustus, begin het. Die stakers aanvaar nie die regering se aanbod van ‘n 7% verhoging en R700 behuisingstoelaag nie en eis 8.6% en R1000 vir behuising.
Plaaslik wil dit voorkom of pasiënte nog redelik regkom en medikasie ontvang.
Me. Martha Baloyi van Magau het haar twee-maande-oue baba, Vessie Mabasa, Maandag na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gebring. Sy het by die hek uitgestap met Vessie op die rug onder sy kombersie, kleinboet aan die een hand en ‘n sakkie vol medisyne in die ander hand. Me. Baloyi het gesê dat sy geen probleme ondervind het nie. Sy het die dokter gesien en onder andere medikasie vir die babatjie se sproei ontvang.
Pasiënte het in- en uitbeweeg by die hek. Een erg beseerde vrouepasiënt, wat te siek was om te praat, se helpers het gesê dat sy goed gehelp is en geen probleme ondervind het nie.
‘n Ingeligte bron het bevestig dat alles glad verloop en dat die werk voortgaan.
“Woensdag het die rooi-hemp Cosatu’s deur die hospitaal getoyi-toyi, maar niemand gepla wat wil werk nie,” sê die bron.
Die waarnemende uitvoerende beampte van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, Sr. Raulinga, het Maandag gesê dat sy nie toestemming het om met die pers te praat nie.
Dienste soos wasgoed, skoonmaak en kosmaak word in die algemeen die meeste geraak deur die staking. Dit is ook daar waar vrywilligers ‘n groot verskil maak. Me. Emma Beukes (74) en haar vriendin, me Claudette Gradwell, het besluit om Sondag na kerk by Elim Hospitaal te gaan uithelp.
“Ons het wasgoed opgevou. In jou lewe het jy nog nie so ‘n hoop wasgoed gesien nie - dis lakens, japonne, nagklere, duvets en handdoeke! Ons was eers na die sale en alles was onder beheer daar. Dit was mooi om te sien hoe die jongmense van die omgewing gekom het om die pasiënte te voer,” vertel me. Beukes, wat self ‘n paar weke gelede ‘n operasie ondergaan het.
Pasiënte moes verminder word tot ‘n beheerbare getal. Volgens inligting was daar Maandag al ‘n bietjie meer mense op diens en het dit al beter gegaan. Intimidasie het na bewering wel plaasgevind en sommige peroneellede wat wou werk is deur middel van telefoonoproepe gedreig.
“Stakers moet onthou dat daar ‘n groter saak is en dat die nasie geraak word. Moenie ons nasie vernietig nie, maar wees verantwoordelik en stel die nasie se belange bo jou eie. Die regering moet sterk en standvastig wees in hul aanbieding en die reg handhaaf,” het past. Errol Naidoo, wat op besoek aan Louis Trichardt was, Saterdag aan die Zoutpansberger gesê. Past. Naidoo se kantore is reg langs die parlement in Kaapstad geleë en sy instituut se visie is om die regering en breë gemeenskap met gesonde waardes te beïnvloed.
SAPA het berig dat daar Dinsdag, die sewende dag van die staking, nog nie verslae van geweld ingestuur is nie. In Limpopo verleen die militêre gesondheidsdienste bystand by vyf hospitale, naamlik Polokwane, Van Velden, Lebowakgomo, St. Rita’s en Maphutha-Malatji.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
