

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2010
Gevorderde tegnologie en toegewyde deskundiges was vandeesweek betrokke by ‘n besonderse bewaringsaksie in die Hanglip-bosbouplantasie buite Louis Trichardt.
‘n Moderne mobiele hyskraan en tegniese personeel van Eskom, valkeniers van die plaaslike klub en ‘n deskundige byevanger was deel van die span wat aan ‘n dubbele bewaringsaksie deelgeneem het, toe bye van ‘n beskermde valksoort se broeines verwyder moes word.
Valkenier Marius Botha moniteer al die afgelope vier jaar ‘n swart sperwer-broeipaar in die plantasie. Hulle het onlangs oënskynlik bedrywig begin raak om hul nes hoog in ‘n droë boomtop gereed te maak vir die broeiseisoen. Tot sy ontsteltenis moes hy egter opmerk dat ‘n swerm bye hulle tuisgemaak het aan die onderkant van die nes. Die bynes reg teen die valknes sou die kuikens van die beskermde swart sperwers in gevaar stel en moes noodwendig verwyder word, voordat die voëls begin broei.
Marius en sy mede-valkenier, Etienne Hendricks, het die hulp van byevanger Mervin Wiggill ingeroep om die byswerm te vang en te verwyder, eerder as om die bye te vernietig.
Die hoogte van die valknes was egter ‘n probleem, totdat hulp bekom is van Eskom, wat bereid was om sy gevorderde mobiele hyskraan vir die unieke bewaringsaksie beskikbaar te stel. Eskom se tegniese personeel, tesame met bosboubeamptes, die valkeniers en die byevanger het die projek Dinsdagaand aangepak en met welslae voltooi. Mervin kon veilig van bo by die nes terugkom met die goeie nuus dat daar wel groen blare in die nes is - ´n sekere teken dat die broeipaar besig is om die nes reg te kry vir hul broeiseisoen. Die swart sperwers lê gewoonlik nie meer as twee eiers nie en meestal word net een van die kuikens groot.
Ettienne sê die nes sal voorlopig nou met rus gelaat word tot Sondag, wanneer monitering voortgesit sal word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
