

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 September 2010
“Ons kan dit net nie oor ons harte kry om vir hom te sê dat sy rugby dae nou vir goed verby is nie.”
Dit was die hartseer woorde van die 13-jarige Wihan Pieterse se ouers, nadat Wihan sy rug erg beseer het in ‘n fratsongeluk. Wihan, wat "nie vir ´n oomblik kon stilsit nie" en vir "rugby gelewe het" het sy rug beseer, terwyl hy toertjies gedoen het op ´n trampolien.
Wihan, ´n Graad 7-leerling van Laerskool Louis Trichardt, is verlede Vrydag saam met ma Sonja om inkopies te doen by Makhado Crossing. By die sentrum het hy vir sy ma gevra of hy ‘n melkskommel by Mike’s Kitchen kan drink, terwyl hy vir haar wag om klaar haar inkopies te doen. Iets wat hy en ouboet, Rülke (15), volgens hulle pa Marius, gereeld doen.
Terwyl Wihan gewag het vir sy melkskommel, het hy op die trampolien in die speelarea gaan spring.
Volgens pa Marius was Wihan verskriklik aktief en sportmal en hy het al van ‘n jong ouderdom toertjies gedoen op die trampolien.
"Dit is iets wat hy homself geleer het," vertel Marius.
Wihan het op Mike’s Kitchen se trampolien probeer om agteroor te duik en het dit met die eerste probeerslag reggekry. Dit was met die tweede probeerslag dat Wihan vermoedelik nie genoeg hoogte gehad het om die sprong te voltooi nie en dat dinge toe skeefgeloop het. Hy het sy nek en rug teen die reëling van die trampolien gestamp, wat sy sesde rugwerwel laat skuif het.
Wihan het vir ‘n geruime tyd om hulp geroep, nadat hy eers self probeer het om op te staan.
Gelukkig het ‘n weldoener, mnr. Charles Pieterse, vir Wihan gehoor en ondersoek gaan instel. Hy het dadelik vir Sonja gebel en vir haar gesê sy moet gou kom want Wihan het baie seer gekry.
Wihan is per ambulans na die Zoutpansberg Privaathospitaal gejaag, waar daar X-straalplate van sy rug en nek geneem is.
Volgens Marius het plaaslike dokters besluit dat Wihan eerder na Polokwane oorgeplaas moet word vir ‘n moontlike noodoperasie, omdat die rugwerwel op die rugmurg druk. ’n Netcare-ambulans het Wihan kom haal en na die MediClinic geneem, met Marius en Sonja agterna.
By die MediClinic is daar weer X-straalplate geneem. Die diagnose was dieselfde, maar die dokters was huiwerig om te opereer.
“Dit is omdat hy so jonk is en nog groei,” het Marius verduidelik.
Die dokters het vir Marius en Sonja verduidelik dat die rugwerwel gewoonlik verwyder word en met ‘n kunsmatige werwel en plate vervang word – in die geval van grootmense.
In Wihan se geval sal hy elke twee jaar geopereer moet word, sodat die plaat kan vervang word soos wat hy groei.
“Die dokter het gesê met die operasie sal Wihan soos ‘n ou man loop teen die tyd wat hy 30 is.”
Daarom het die dokters besluit om eers te kyk of hulle die rugwerwel weer kan reg “trek” tot op die regte plek.
Teen Dinsdag was Wihan nog in die hoësorgeenheid en het hy gewag vir sy rug- en borsstut, wat spesiaal vir hom gemaak moet word. Die moeilikste, sê Marius, is om Wihan so ver te kry om homself nou stil te gedra. As die rugwerwel in die rugmurg druk, dan is dit verby en sal Wihan verlam wees.
“My kind was nie een vir stilsit nie en was altyd besig met iets. Om vir hom te verduidelik dat hy nou sal moet ophou rugby speel gaan bitter swaar wees.”
Wihan het van ‘n jong ouderdom al begin om ‘n rugbybal rond te skop en daarvan gedroom om ‘n sportman te word. Hy het ook in Junie vanjaar uitgedraf vir Triegies in hul Limpopo-trofee wedstryd teen Suidskool.
“Die wedstryd was gelykop en Wihan se skepskop het teen die dwarslat teruggespring,” het Marius vertel.
“Hy het my juis gevra dat ek volgende keer tog net sy rugbybal saam moet vat hospitaal toe, want hy wil dit bietjie rondskop.”
Wihan sal hopelik later die week ontslaan word as hy eers sy rugstut ontvang het. Intussen het die famlie almal bedank wat al gebel en SMS´e gestuur het. Hulle het Maud Myburgh en Charles Pieterse uitgesonder vir al hul hulp en ondersteuning met Wihan se ongeluk.

ADVERTISEMENT:
