ADVERTISEMENT:

 

Edna moes na die MediClinic in Polokwane gehaas word, nadat ´n virus-infeksie omgesit het in A-graad longontsteking en daar gevrees is vir haar lewe. Foto verskaf.

Jong leukemie pasiënt veg dapper

 

News  Date: 03 September 2010

 

Edna Prinsloo (14), die moedige jong leukemie pasiënt van Louis Trichardt, veg steeds dapper voort, nadat ‘n ernstige virus-infeksie amper haar lewe geëis het.

Sy is verlede Woensdag, 25 Augustus, inderhaas na die MediClinic op Polokwane oorgeplaas, nadat sy gediagnoseer is met A-graad longontsteking en daar vir haar lewe gevrees is.

Edna is in Junie verlede jaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer en het sedertdien al haar induksiefase chemoterapie voltooi. Sy het ook haar konsolidasiefasie chemoterapie by die Little Company of Mary-hospitaal begin en haar dokters was baie tevrede met haar vordering.

Volgens ma Christine was die behandeling maar moeilik vir Edna, veral toe haar lang blonde hare begin uitval het.

“Ons was almal bly toe haar hare begin teruggroei het en sy nou met krulle kan spog,” het ‘n effense moë Christine vandeesweek vertel.

Christine, wat ‘n assistent-bestuurder by P&L Hardeware is, besoek Edna oor naweke en in die aande na werk gedurende die week.

“Dit gaan maar moeilik, maar ons is dankbaar vir elke dag."

Edna het tot dusver goed gereageer op haar behandeling. Volgens Christine was daar nog ‘n klein persentasie hardnekkige kankerselle en het Edna nog 18 chemo-behandelings oorgehad toe sy siek geword het.

Edna is Maandag in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem met ´n virus-infeksie. Weens haar verlaagde witbloedtelling, kon Edna maar net nie weerstand teen die virus bied nie en het haar gesondheid al hoe meer versleg.

Teen Woensdag het dit so sleg gegaan met haar dat sy dadelik in die intensiewe sorgeenheid van die MediClinic opgeneem is. Met Edna se aankoms by die hospitaal het sy gehiperventileer en het sy dadelik suurstofbehandeling ontvang. Sy is aan ´n longmasjien gekoppel.

Teen Woensdagaand het Christine by Edna se bed gewaak, toe dokters vir die ergste gevrees het.

“Ons het almal ons asems opgehou,” het Christine vertel.

Edna het baie geworstel en was baie emosioneel. Dit kan toegeskryf word aan haar ouma se afsterwe vroeër vanjaar, het Christine gesê. Edna se ouma is op 13 Julie oorlede, nadat sy ook met leukemie gediagnoseer is en later ook longprobleme opgedoen het. Dit was volgens Christine ‘n geweldige terugslag vir Edna, wat haar heeltemal gebroke gelaat het.

Wonderbaarlik het Edna teen Vrydag begin reageer op haar behandeling en was almal verheug toe sy Saterdag weer geglimlag en saamgesels het. Alhoewel Edna se witbloedtelling nog steeds gevaarlik laag is, kon sy teen Maandagmiddag oorgeplaas word na die hoësorgeenheid.

Daar lê egter nog ‘n lang pad voor vir Edna. Nadat sy gesond is, sal sy eers weer haar spesialis moet gaan sien, sodat hulle weer van vooraf kan begin met die chemoterapie.

Deur die moeilike tye was daar darem ook gelukkiger tye. Edna het vir die eerste keer in haar lewe gevlieg, toe die gesin op Moedersdag vir Ouma in die Kaap gaan verras het. Tydens haar besoek aan die Kaap het sy ook vir Gian Groen ontmoet. Sy het ook hierna skouers geskuur met Kurt Darren, Wicus van der Merwe, Freddi Nest en Arno Jordaan, tydens Kurt Darren se verjaarsdagpartytjie op Mookgophong.

Sowat drie weke terug was Edna verheug toe sy die geleentheid gekry het om haar gunsteling musiekster, Dozi, te ontmoet tydens die Sondag-koerant se funksie ten bate van KANSA in Randburg. “Nou wil Edna nog net vir Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld ontmoet,” het Christine gesê.

Teen druktyd was daar nog nie ‘n aanduiding wanneer Edna weer huis toe mag gaan nie.

Intussen het Christine al hulle vriende en familie bedank vir hul volgehoue voorbidding en ondersteuning.

“God het al die gebede aangehoor en Edna weer vir my teruggee. Ek kan net sê: Hoe groot is U.”

Sy het ook haar ander kinders, Hillette (16), Chirsja (10) en JP (6) geloof en bedank vir hulle moedige samewerking.

Christinne het ook dr. Casper Venter bedank vir al sy hulp met Edna, asook P&L Hardware, die Makhado Care Group en Johan en Karen Badenhorst.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines